Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Fases en seisoene: Soms is dit tyd vir 'n nuwe begin - 23 Oktober 2025

Charlea Grey
 
As iemand aan Christus behoort, dan het God daardie persoon 'n nuwe mens gemaak. Die persoon se ou lewe is verby, ja, hy het 'n nuwe lewe gekry. 2 Korintiërs 5:17, Bybel vir almal
 
Ek is sedert kleintyd baie lief vir lees. My ma het dié liefde gekweek deur ons gedurig aan te moedig om nuwe boeke te probeer. Sy het ons gereeld biblioteek toe geneem en sy het vir ons elkeen 'n boekie gegee waarin ons rekord kon hou van die boeke wat ons gelees het. Ná 'n sekere aantal boeke het ons 'n stempel gekry. Dan was ek natuurlik baie in my skik. Ek wou soveel moontlik stempels hê.
 
Die boeke het later dikker geword. En soms was die eerste paar blaaie maar vervelig. Dan het my ma ons altyd aangemoedig om ten minste net die eerste vyf tot tien blaaie te lees voor ons besluit of ons verder wil gaan of nie. Teen dié tyd is ons gewoonlik ingetrek en vasgenael.
 
'n Nuwe begin klink meestal opwindend en lekker – net soos 'n nuwe boek. 'n Nuwe jaar met nuwe voornemens, 'n nuwe huis, 'n nuwe werk, 'n nuwe hoofstuk voel altyd soos 'n nuwe blaadjie – 'n nuwe kans.
 
En dit is.
 
Maar 'n nuwe hoofstuk, of 'n nuwe begin is nie altyd dadelik maklik of lekker nie. Dit is nie noodwendig van die heel begin af maklik of lekker nie. Dinge kan selfs met 'n nuwe begin, soos grondpad voel.
 
Dit beteken nie ons moet skielik moed opgee nie. Dit beteken nie ons moet liewer terugdraai of sommer net die boek toemaak nie. Dit beteken nie jou nuwe kans is verspeel nie. Nuut bly nuut en wanneer God vir ons nuwe kanse gee, of ons voor 'n nuwe hoofstuk laat staan en ons die geleentheid bied om as nuwe mense verder te gaan, moet ons onthou dat Hy by ons is, maak nie saak hoe die nuwe begin nou eintlik lyk nie.
 
Gebed: Baie dankie Here, dat U vir ons dikwels voor 'n nuwe begin laat staan. Dankie dat ons vorentoe kan beweeg en dat U die pad saam met ons stap – maak nie saak hoe opwindend, moeilik of vervelig dit aanvanklik is nie. Amen.
Next article: Fases en seisoene: Soms verander als - 22 Oktober 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.