Fases en seisoene: Soms is dinge stil, vervelig en voorspelbaar - 21 Oktober 2025
Charlea Grey
Ek sê dit nie omdat ek te min het nie. Ek het geleer om tevrede te wees met dit wat ek het. Fillipense 4:11, Bybel vir almal
Daar is mense wat smag na roetine – oor en oor dieselfde ding. Maar nie almal is so nie. Tog is een ding seker, ons almal wil so nou en dan 'n bietjie opwinding beleef. Dis menslik.
Of dit nou die opwinding van 'n lekker vakansie, 'n prettige uitstappie, of 'n nuwe lewensfase is – soos om verlief te raak en vlinders in jou maag te ervaar. Of om 'n troue te beplan, by 'n nuwe huis in te trek, met 'n nuwe werk te begin, of reg te maak vir 'n nuwe baba.
Ek is gek daarna om iets te beplan en uit te sien na die geleentheid. Ek het net nou die dag vir 'n kollega gesê ek het kinders sodat ek kinderpartytjies kan reël. Dis natuurlik net 'n grap, maar ek is mal daaroor om te beplan, navorsing te doen en aan allerhande oulike idees vir koeke en dekor te dink. Dit maak die lewe vir my interessant en opwindend.
Ek besef natuurlik dat “interessant en opwindend” ook relatief is. Mense verskil en hul idee daarvan ook. My “interessant en opwindend” is dalk vir iemand anders “vervelig en voorspelbaar”.
Die ding is wel, ons almal gaan deur tye in die lewe waar dinge nie naastenby opwindend is nie. Soms gebeur daar net niks. Ons werk, ons hou huis, ons is vasgevang in 'n roetine en dit voel nie juis of jy vorentoe beweeg nie.
Dit kan veral frustrerend raak en 'n mens selfs diep moedeloos of hartseer laat voel as jy voel almal anders se lewens beweeg vorentoe, is vol opwinding en nuwe uitdagings, maar jou eie dinge staan stil.
Jy ervaar dalk 'n wagtyd.
Ek kan helaas nie vir jou sê wat aan die anderkant van daardie wagtyd lê nie. Ek kan ook nie vir jou sê hoe lank daai tyd gaan wees nie. Ek kan wel vir jou sê dat al voel dinge dalk nou vervelig, voorspelbaar en selfs frustrerend, het God 'n plan vir jou lewe.
Ons kan by Paulus leer en fokus op dit wat ons het – baie of min, vervelig of opwinend. Ons kan leer om tevrede te wees in die fase of seisoen waarin ons onsself bevind. Want die waarheid is ook, dit kan enige oomblik verander.
Gebed: Vader, help my om ook in die stiller, vervelige tye van my lewe tevrede te wees met dit wat ek het. Help my om steeds u genade raak te sien en dankbaar te wees vir u teenwoordigheid in my lewe. Amen.