Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Fases en seisoene: Soms moet jy in die donker deurdruk - 20 Oktober 2025

Charlea Grey 

As ek sê die donker moet my toemaak, die lig rondom my moet donker word, dan is dit nie donker vir U nie. Vir U is die nag so lig soos die dag en donker is vir U soos lig.  Psalm 139:11-12, Bybel vir almal
 
Verskoon tog dat ek terugkeer na Psalm 139. Maar ek voel die psalmdigter se woorde is hier so gerusstellend en waar.
 
Een van die dinge wat ek die afgelope drie jaar keer op keer geleer het, is dat baie dinge fases is. Seisoene. Dikwels net tydelik.
 
Met 'n kleintjie in die huis is 'n mens soveel meer bewus van die fases. Slegte slaap hou nie vir ewig aan nie, selfs al voel dit so. Tandekry – gaan verby. Gewoontes – goed of sleg, hou nie noodwendig vir ewig nie.
 
So is dit met alles anders ook. Om aan te pas en gewoond te raak aan nuwe werksomstandighede vat tyd, maar iewers begin jy jou voete vind. Jy en jou maat sukkel dalk om mekaar te vind. Daardie misverstande kan uiteindelik opgeklaar word.
 
Ja, soms is daar tye in die lewe wat nie lekker is nie. Soms is daar aspekte in ons lewens wat net nie is soos wat ons dit sal wil hê nie. Daar is tye wat dit voel asof 'n mens in die donker tas, veral as jy nie seker is hoe om die situasie beter te maak nie. Dis asof jy net deur die moeilike fase moet druk, ongeag wat.
 
Kom net deur die week. Oorleef net die dag. Druk net deur die volgende maand. Kop af en fokus net op wat gedoen moet word om anderkant uit te kom. Voel jy ook soms so? "Surviving, not thriving". Dis nie noodwendig hoe 'n mens wil voel as jy eintlik voluit wil lééf nie, né?
 
Herinner jouself daaraan dat God daar is, ook in dié tye. Die deurdruk-tye. Die kop-af-tye. Dit is tydelik, maar God se teenwoordigheid is nie. God se teenwoordighed is konstant, en Hy sal ook in die ligter, lekkerder tye steeds daar wees.
 
Gebed: Here, help my om in die donkerder fases van die lewe vas te hou aan die feit dat U daar is vir my, my steeds omvou en my sal dra. Amen.
Next article: Lesse van ma-wees 2: Maak tyd om jou koppie vol te maak - 17 Oktober 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.