Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die mooiste, mooiste maand: In 'n stukkende wêreld - 2 Oktober 2025

Charlea Grey
 
Sing en prys die Here, want Hy het 'n wonderlike ding gedoen. Sê dit vir al die mense op die aarde. Jesaja 12:5, Bybel vir almal
 
As jy by 'n verkeerslig stilhou, is die kans baie goed dat jy gekonfronteer gaan word deur iemand met 'n boodskap op 'n stuk karton: Help asseblief. Geen kos.
 
Wanneer jy 'n nuuswebwerf besoek, gaan daar tien teen een heelwat opskrifte wees wat die volgende woorde bevat: Moord, dood, korrup, ongeluk, oorlog, misdaad, werkloosheid.
 
Op sosiale media kan jy gou gekonfronteer word met mense wat jy ken of wildvreemdelinge se pleidooie en befondsingsveldtogte om siek kinders, familie of vriende finansieel by te staan.
 
Ons leef in 'n stukkende wêreld, en ek weet nie van jou nie, maar daar is dae wat al die inligting oor mense se seer en swaarkry totaal oorweldigend raak. Maak nie saak in watter rigting jy jou draai nie, jy word gekonfronteer met nood en ellende. Soms sien mens dit op 'n afstand, ander kere is dit baie na aan jou lyf. Dit kan dalk ook in die stadium jou eie werklikheid wees.
 
Ja, die wêreld is vol hartseer en daar gebeur elke dag baie slegte dinge. Dinge wat ek wens nooit eers deel was van enigeen van ons se verwysingsraamwerk nie. Maar die ander realiteit is ook dat die wêreld nie net uit swaarkry en hartseer bestaan nie, en dit is 'n belangrike perspektief wat ons moet probeer behou.
 
Die lewe is ook mooi en goed en vol geleenthede, wonderwerke en goeie mense wat elke dag opstaan en probeer om die wêreld 'n beter plek te maak.
 
Ek dink nou aan die storie van die sewejarige Olu Nkosinkulu, 'n seuntjie van Hankey in die Oos-Kaap, wat met een been bulletjierugby speel en sommer drie drieë in een wedstryd gedruk het. 'n Video van hom wat soos blits op die rugbyveld beweeg, is al meer as 3 miljoen keer op sosiale media gekyk.
 
Dis nou maar een voorbeeld van 'n mooi en inspirerende storie.
 
Daar is baie organisasies wat besig is met opheffingswerk. Daar is talle goeie-nuus-stories oor mense wat bo moeilike omstandighede uitstyg, mense wat op een of ander onwaarskynlike manier liefde en geluk vind, mense wat wonderbaarlik herstel ná ongelukke of siekte.
 
Nee, ons moenie die seer en swaarkry miskyk of ignoreer nie. Nooit nie. Maar ons moenie vergeet om die mooi raak te sien nie. Ons moenie vergeet om goeie werk, goedvoel-stories en inspirerende mense raak te sien en te waardeer nie. Daar is hordes klein stukkies mooi en goed in elke dag. En daarvoor moet ons vir God ook elke dag kan dankie sê.
 
Gebed: Vader, baie dankie, dat ten spyte van die stukkende wêreld waarin ons leef, daar ook talle mooi en inspirerende dinge en mense is. Help my om dit raak te sien en te waardeer. Amen.
 
Previous article: Die mooiste, mooiste maand: En jy is ook mooi - 3 Oktober 2025 Prev Next article: Die mooiste, mooiste maand: Moet gevier word - 1 Oktober 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.