Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die mooiste, mooiste maand: En jy is ook mooi - 3 Oktober 2025

Charlea Grey
 
Julle God die Here is by julle. Hy is die Groot Soldaat wat julle sal red. Hy is bly en Hy juig oor julle. Hy is lief vir julle en Hy sing oor julle. Sefanja 3:17, Bybel vir almal
 
Ek het 'n kollega wat 'n spesiale gawe het. Wanneer sy met mense gesels, laat sy hulle 100% raakgesien en gewaardeerd voel. Sy besing hul lof en gee komplimente – maar nie oppervlakkige, vals komplimente nie, nee, opregte komplimente en woorde van waardering. Ek kon dalk al voorheen oor haar geskryf het.
 
Haar menswees en dié manier waarop sy mense laat goed voel oor hulself maak dat baie van my ander kollegas ontsettend lojaal is teenoor haar. Hulle werk harder en is bereid om die ekstra myl te loop.
 
Ek was nog altyd iemand wat verkies om eerder in die agtergrond te beweeg. Ek wil nie juis die middelpunt van al die aandag wees nie. Ek raak verleë en ongemaklik as iemand my dan komplimenteer. Ek maak dit gewoonlik af met 'n simpel grappie of verander die onderwerp.
 
Ironies genoeg, raak ek weer gefrustreerd met 'n ander goeie vriendin en kollega wat so dikwels nie besef hoe talentvol en bekwaam sy is nie en wat soms so kan twyfel oor haarself en haar vermoëns. Dan raas ek met haar omdat sy nie meer selfvertroue het met sommige dinge nie, want ek dink dan sy is fantasties en die beste.
 
Dit het my nogal laat dink oor hoe ons mekaar sien, hoe ons dikwels onsself beskou en hoe God ons sien.
 
Hy ken ons volle menswees want Hy het ons aanmekaargeweef. Hy weet presies hoe goed en wonderlik en talentvol ons is. Hy ken ons swakpunte en tekortkominge ook. Maar dit beteken nie dat ons nie goed genoeg is nie. Dit beteken nie ons is nie vir Hom mooi en lieflik nie.
 
Nee, inteendeel. Dit is dikwels jou totale menswees, jou sterk- en swakpunte wat jou so spesiaal maak. Die dinge wat jy as foute en tekortkominge beskou, word dalk nie eers deur ander raakgesien nie, maar dit maak jou 'n mens wat perfek en spesiaal deur God geskape is.
 
In die mooiste, mooiste maand, fokus vir 'n slag op al daai mooi dinge wat maak dat God en ander mense jou liefhet. Jy mag waarde aan jouself heg, jy is immers God se kind.
 
Gebed: Here, ons kan dikwels so krities na onsself kyk en op ons tekortkominge fokus. Help my om ook te besef dat ek spesiaal en waardevol is. Help my om my sterkpunte raak te sien en dit uit te bou. Amen.
 
 
Next article: Die mooiste, mooiste maand: In 'n stukkende wêreld - 2 Oktober 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.