Die mooiste, mooiste maand: Moet gevier word - 1 Oktober 2025
Charlea Grey
Gras en blomme word droog en verlep, maar die dinge wat ons God sê, sal nooit verander nie." Jesaja 40:8, Bybel vir almal
Kan jy glo dit is al weer Oktober? Daar is nog net 'n kwart van 2025 oor. Dis vir my skrikwekkend en erg want waarheen is die tyd? Nog 'n jaar is besig om verby te vlieg.
Maar dit is ook wonderlik en lekker, want Oktober is een van my gunstelingtye van die jaar. C Louis Leipoldt het nie verniet in sy gedig Oktobermaand geskryf nie:
“Dit is die maand Oktober,
die mooiste, mooiste maand:
Dan is die dag so helder,
so groen is elke aand ...”
Johannesburg en Pretoria is toe onder 'n pers kombers van Jakarandabome. Hier in die Kaap is die blommetyd grotendeels verby, maar tog is daar 'n vrolikheid in die lug.
Dis 'n mooi tyd van die jaar en die feesseisoen wink, so ek weet nie van jou nie, maar vir my beteken dit dat daar 'n tikkie opwinding in die lug is.
Maar helaas, soos dit ook in Jesaja geskryf staan, is ook die mooiste, mooiste maand tydelik. Die mooi blomme sal naderhand verlep, die gras wat groen was weens al die winterreëns gaan later begin verdor wanneer die somerson sy tol eis.
Tog beteken dit nie ons mag nie die mooi en die lekker geniet terwyl ons kan nie. Ons kan die mooi aande, helder oggende en vars lentegevoel geniet – dit bly immers 'n geskenk van Bo. Dis die perfekte tyd om die mooi opnuut raak te sien, te waardeer en sommer te vier.
Maar ons kan ook altyd troos vind en onthou dat hoewel die maande wissel, die seisoene verander en meeste dinge in ons lewens net tydelik is, God konstant is. God se Woord is altyd daar en dit is konsekwent. God se beloftes aan ons, sy kinders, staan vir ewig vas. Dis nie net daar wanneer die maande mooi is nie. Dis geldig en waar, ook wanneer ons onsself in 'n wintermaand of vier bevind.
As jy verder lees, skryf Leipoldt:
“Dit is die maand Oktober:
ek dink, die mense vier
Vir ewig in die hemel
Oktobermaand soos hier!"
So, wie weet, dalk is Leipoldt reg. Dalk is dit inderdaad in die hemel altyd die mooiste, mooiste maand. Sal dit nie fabelagtig wees nie?
Gebed: Hemelse Vader, baie dankie vir 'n mooi tyd van die jaar. Dankie dat U my gedra het tot hier. Help my om die laaste stukkie van die jaar met moed aan te pak en die mooiste, mooiste maand te geniet, maar ook te onthou, dat wanneer mooi dinge tot 'n einde kom, U steeds daar is vir my. Amen.