Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Laaste seisoen: Hoop in die winter van die lewe - 30 September 2025

Ewald Schmidt
 
Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. 2 Korintiërs 4:16-18, 1983-vertaling
 
Ons het hierdie maand stilgestaan by die verskillende seisoene wat ons gedurende ons leeftyd beleef. Die chronologiese verloop van ons jare, asook emosionele seisoene wat op korter tye mekaar afwissel en die gang van ons lewe beïnvloed. Wintertyd beleef ons as die moeilike tye in ons lewe. Vandag dink ons aan fisies ouer word as deel van die winterseisoen in ons lewens. Dit is daardie tyd wanneer die liggaam stadiger begin beweeg, wanneer die lyne op die gesig 'n verhaal van jare begin vertel en wanneer die sorge van gister nie meer so vinnig wegwaai soos in die lente van ons jeug nie. Maar selfs in hierdie seisoen – miskien juis in hierdie seisoen – is daar 'n besondere soort hoop wat diep wortel skiet.
 
Paulus skryf aan die Korintiërs oor hierdie hoop. Hy erken dat die uiterlike mens inderdaad besig is om te vergaan. Dis nie 'n ontkenning van die realiteit nie. Paulus probeer nie wegsteek dat lyding, ouderdom en aftakeling deel is van die aardse reis nie. Maar hy plaas dit teenoor 'n groter waarheid: die innerlike mens, die geestelike wese, word dag vir dag vernuwe.
 
Wat 'n wonderlike troos! Terwyl ons liggaam dalk nie meer kan hardloop of onthou soos voorheen nie, is God steeds besig om binne-in ons iets nuuts en ewigs te vorm. Hierdie “swaarkry van korte duur”, soos Paulus dit noem, voel dalk vir ons te veel om te dra, maar in vergelyking met die heerlikheid wat wag, is dit tydelik en lig. Dit herinner ons dat elke seisoen, selfs die winter van die lewe, betekenis dra in God se ewige plan.
 
Die winter bring met hom stilte. Die bome staan kaal, en die wind sny deur die klere. Maar dit is ook in die winter dat die wortels die diepste groei. Onder die oppervlak is daar beweging – voorbereiding vir nuwe lewe. So werk God in ons: selfs wanneer ons nie uiterlike groei sien nie, is Hy besig om ons voor te berei vir 'n heerlikheid wat ons nie nou ten volle kan verstaan nie.
 
Die hoop wat ons in Christus het, is nie oppervlakkig nie. Dis nie 'n optimisme wat ontken wat ons deurmaak nie. Dis 'n vaste vertroue dat God selfs die moeilikste seisoene gebruik om iets ewigs in ons te bewerk. Daarom gee ons nie moed op nie. Selfs wanneer ons oë begin verswak, sien ons helderder met geloof. Selfs wanneer ons hande begin bewe, hou God ons vas met sy onveranderlike hand.
 
Laat hierdie winterseisoen van jou lewe nie net 'n tyd van verlies wees nie. Laat dit 'n tyd wees waarin jy God se teenwoordigheid die diepste beleef. Laat jou hoop nie in die liggaam of omstandighede wees nie, maar in die een wat jou innerlike mens dag vir dag vernuwe.
 
Gebed: Here, dankie dat U nie net saam met ons stap in die somer van die lewe nie, maar ook in die winter. Vernuwe my innerlike mens, al voel my liggaam moeg. Leer my om hoop te put uit u ewige perspektief. Help my om elke dag met verwagting te leef, wetende dat U iets heerliks in my vorm. Amen.
 

 

Previous article: Die mooiste, mooiste maand: Moet gevier word - 1 Oktober 2025 Prev Next article: Winter: 'n Gebed om sterk te bly staan - 29 September 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.