Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Winter: Volharding in die moeilike seisoene van die lewe - 26 September 2025

Ewald Schmidt
 
Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. Romeine 5:3-5, 1983-vertaling.
 
Daar is tye in die lewe wat soos die winter voel – koud, donker, en sonder die sigbare beloftes van groei. Dit is tye van verlies, pyn, onsekerheid, en 'n gevoel dat God dalk stil geword het. Hierdie seisoene kom dikwels onverwags. Jy bevind jou in die middel van 'n storm, en dit voel asof elke dag 'n geveg is net om aan te hou asemhaal. Maar dit is juis in hierdie winterseisoene dat God diep, stil werk in jou lewe doen.
 
Paulus se woorde in Romeine 5 is 'n vreemde troos: "Ons verheug ons ook in die swaarkry." Wie wil roem in swaarkry? Tog leer hy ons dat daar iets kosbaars gebeur wanneer ons nie net deur verdrukking gaan nie, maar daardeur volhard – aan te hou glo, hoop en om die lewenspad saam met Hom te stap. Die swaarkry in ons lewe is nie die einde van die pad nie, dit is die begin van 'n proses waarin God jou karakter vorm en jou geloof verdiep.
 
Eers kom die volharding – daardie standvastige vasbyt, om op God te vertrou wanneer jy niks voel of sien nie. Dan groei daar egtheid van geloof – die bewese karakter van iemand wat deur die vuur is, maar nie gebreek het nie. En uiteindelik bring dit hoop voort – nie 'n oppervlakkige hoop wat op uitkomste rus nie, maar 'n diep geloof dat God goed is, selfs al is die wêreld om jou donker.
 
Hierdie hoop, sê Paulus, sal jou nooit beskaam nie. Waarom nie? Want dit is geanker in God se liefde, wat uitgestort is in jou hart deur die Heilige Gees. Jy is nie alleen in jou winter nie. Die Here is daar, dalk nie sigbaar soos in die somer se sonskyn nie, maar teenwoordig, naby, en besig om jou wortels dieper in Hom te vestig.
 
Moenie die winter vrees nie. God gebruik dit om jou voor te berei vir 'n nuwe seisoen van vrug. Elke traan, elke sug, elke stil gebed tel. Hy sien, Hy weet en Hy dra jou. Hou aan vasstaan. Volharding is nie net oorlewing nie – dit is groei in stilte. En wanneer die lente kom, sal jy sterker wees, ryker in geloof, en helderder in hoop. 
 
Gebed: Here, ek voel soms moeg en moedeloos in hierdie seisoen van swaarkry. Dankie dat U my nie los nie. Help my om te volhard, om vas te hou aan U, selfs wanneer ek nie verstaan nie. Vorm my deur hierdie tyd. Laat my hoop nie beskaam nie, want u liefde is my anker. Amen.
 
Previous article: Winter: 'n Gebed om sterk te bly staan - 29 September 2025 Prev Next article: Winter: Geloof om steeds met arendsvlerke te vlieg - 25 September 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.