Winter: Geloof om steeds met arendsvlerke te vlieg - 25 September 2025
Ewald Schmidt
… maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie. Jesaja 40:31, 1983-vertaling
In die winterseisoen van die lewe – daardie tyd wanneer die gewrigte begin kraak, herinneringe begin vervaag, en die wêreld om jou vinniger beweeg as wat jy kan byhou – voel dit soms asof jy stadig in die agtergrond verdwyn. Die stemme van vroeër jare, die drome, die werk, die drome vir jou kinders, het al stil geraak. Jy vra dalk: "Wat is my plek nog? Wat het ek nog om te gee?"
Maar hoor weer die woorde van Jesaja. Hy skryf nie net vir die jonges nie, nie net vir die sterkes nie, hy rig sy woorde aan almal wat moeg geword het. Hy sê God word nooit moeg of uitgeput nie. Sy insig is ondeurgrondelik, en Hy gee krag aan dié wat nie meer krag oorhet nie.
Daar is 'n arend in jou siel! Selfs in die winter van jou lewe, roep God jou op om weer te vlieg – nie op eie krag nie, maar op sý wind, sý genade, sý beloftes. Die arend sweef nie deur sy vleuels wild te klap nie, maar deur op die windstrome te vertrou. So is dit ook met jou geloof: jy hoef nie self alles reg te kry nie. Jy hoef net op Hom te wag.
Die wêreld sien dalk grys hare en stadiger, meer versigtige treë in die openbaar. Maar God kyk anders! Hy sien 'n lewe vol wysheid, gebede en 'n hart wat nog klop vir Hom. Jou krag lê nie in jou liggaam nie, maar in jou verhouding met jou Skepper. Wanneer jy jou hoop op Hom plaas – daardie stil vertroue, daardie wag met verwagting – dan hernu Hy jou krag.
Dis in hierdie seisoen dat jy dalk die diepste intimiteit met God kan ervaar. Die geraas van prestasie het stil geword. Nou hoor jy die fluistering van sy Gees. En Hy sê: "My kind, Ek is nog nie klaar met jou nie."
Mag jy vandag weer jou oë ophef, nie na die moeë wêreld om jou nie, maar na die hemel waaruit jou hulp kom. Mag jy voel hoe die wind van die Heilige Gees onder jou vlerke opkom. Jy is nie vergete nie. Jy is geliefd, gesalf en nog steeds geroep.
Gebed: Here, ek wag op U. Ek vertrou U. Vernuwe my krag. Laat ek vlieg – al is dit nie met my eie energie nie, maar op u vlerke van genade. Amen.