Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God se waarborg aan ons - 12 September 2025

Ben Fourie
 
Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Efesiërs 1:14, 1983-vertaling
 
Die woord wat hier met waarborg vertaal word, is die Griekse woord arrabon. Dit is 'n baie interessante woord wat op verskillende maniere vertaal kan word om vir ons 'n geheelbeeld te gee van hoe sterk God se belofte, waarvan ons gister gelees het, aan ons is. Dit was daardie tyd gebruiklik om as jy iets gekoop het 'n eerste paaiement of arrabon te betaal. Ons kan dit dalk vergelyk met ons gebruik om 'n deposito te betaal.
 
Daar is egter 'n verskil in die sin dat in ons moderne tyd jy jou deposito kan prysgee of selfs terugkry as jy nie meer met die koop wil voortgaan nie. In bybelse tyd het die betaling van die eerste paaiement jou egter wetlik verplig om ook die res van die koopsom te betaal. Jy het deur hierdie arrabon vir die verkoper gewaarborg dat jy sonder enige twyfel die res van die geld sal betaal. Interessantheidshalwe, word die woord in moderne Grieks ook gebruik vir 'n verloofring.
 
Volgens hierdie betekenis word die Heilige Gees as 'n eerste paaiement gesien waardeur God waarborg dat hy ook die res van die belofte sal vervul. Wat die belofte behels, word vir ons ons in Efesiërs 1:13 uitgespel wanneer Paulus sê dat ons deur Christus deel geword het van die volk van God. Deur sy volkome offer aan die kruis het Hy vir ons die ewige lewe gekoop. Dit is wat die teksvers bedoel met wat ons nog verder sal ontvang, naamlik die ewige lewe saam met God. Wanneer die eerste paaiement, die Heilige Gees, ontvang word, weet ons God sal nie op sy belofte of waarborg teruggaan nie. Jy hoef nooit te twyfel of jy die finale paaiement, die ewige lewe, sal ontvang nie. Dit is gewaarborg deur niemand minder as God se Heilige Gees nie.
 
Gebed: Here, ons loof en prys U dat die deposito reeds aan die kruis betaal is en ons nou kan uitsien na die finale verlossing wanneer ons die ewige lewe saam met U ingaan. Amen
 
Previous article: God is vir altyd naby aan my - 15 September 2025 Prev Next article: Die mondige mens van die 21ste eeu en die belofte van God - 11 September 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.