Die mondige mens van die 21ste eeu en die belofte van God - 11 September 2025
Ben Fourie
Toe God aan Abraham'n belofte gemaak het, het Hy, aangesien Hy niemand belangriker gehad het om by te sweer nie, by Homself gesweer. Hy het gesê: "Ek sal jou ryklik seën ... Hebreërs 6:13-14a, 2020-vertaling
As 'n mens nog jonk is kan jy nie wag om mondig te word nie. Mondigheid is die finale toegang tot die grootmens wêreld. As jy mondig is het jy niemand se toestemming meer nodig om jou lewe te lei soos wat jy dit wil doen nie. Die keersy is natuurlik dat jy nou, anders as voorheen, ook volledig verantwoordelikheid moet neem vir alles wat jy doen.
So het die mens van die 21ste eeu ook gehunker na mondigheid en dit finaal bereik. Jy het deesdae 'n vrye sê op elke sosiale platform. Met die klik van 'n muis en die bystand van jou vriend, Kunsmatige Intelligensie, word jy na voorheen ongedroomde wêrelde geneem. Die groot treë op mediese gebied het selfs al vir mense die moontlikheid van onsterflikheid op die horison laat verskyn. Wanneer kwantumrekenaars eendag alledaags sal wees, sal hierdie nuwe wêreld met sy nuwe idees teen 'n pas versnel wat ons nie in ons wildste droom kan voorsien nie.
Teenoor hierdie wonderwêreld van tegnologie, mediese- en ruimtewetenskap, lyk ons storie van 'n God wat alles geskep het, 'n man met die naam Jesus wat aan 'n kruis gesterf het vir mense se sonde en die idee van 'n Heilige Gees wat jou deur die lewe moet lei, dalk vir al meer mense soos blote fiksie. Die ander kant van die muntstuk is dat hierdie nuwe wêreld ook al meer en meer mense met 'n geweldige stuk onsekerheid oor die lewe en die toekoms gelaat het.
Ons kan, in hierdie nuwe wildernis waarin die mens beland het, geweldig troos vind in die verhaal wat die Bybel vir ons oor God vertel. Ek glo aan die belofte wat God aan Abraham gemaak het en wat deur die kruis vir ons elkeen waar geword het. God wil vir jou en my te midde van die deurmekaar wêreld ook ryklik seën. Hy neem selfs 'n eed oor hierdie belofte aan ons.
Ek sal nooit sy belofte in twyfel trek nie en sal dit altyd graag wil deel met elkeen wat my pad kruis.
Gebed: Here Jesus, toe U daardie dag aan die kruis geworstel het, het U vir my die seën waarvan die Woord praat verdien. Help my om ander wat ook soms verwilderd en vervreemd is in die nuwe wêreld waarin ons leef, van die belofte van u seën te vertel. Amen