God is vir altyd naby aan my - 15 September 2025
Ben Fourie
En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd." Matteus 28:20b, 2020-vertaling
Soms is dit lekker om so 'n bietjie alleen te wees, maar dit is nooit lekker om eensaam te wees nie. Ons hunker almal maar na die teenwoordigheid van 'n ander persoon, veral nog as dit iemand is vir wie jy baie omgee. Dit is lekker om iets moois met iemand anders te deel en dit is 'n riem onder die hart as jy tydens 'n krisis iemand het wat jou kan ondersteun.
Hoeveel te meer verlang ons nie om in God se teenwoordigheid te wees nie. 'n Mens wil werklik ervaar dat die Here baie naby aan jou is. In ons gejaagde samelewing is daar soveel bedrywigheid dat die plekke waar jy God in stilte kan ontmoet al minder raak. Soms voel ek selfs tydens 'n erediens dat dit te “lawaaierig” gaan en 'n mens nie kan rustig word en ervaar dat die Heilige Gees daar by jou is nie.
Waarom het 'n mens dan so behoefte om God se teenwoordigheid te ervaar? My oudste kleindogter het een aand styf teen my kom sit en gesê: “As ek so teen oupa sit voel ek vreeslik veilig en is ek vir niks bang nie.” Ek dink dit is die eerste rede waarom ons die nabyheid van God wil ervaar.
Die digter van Psalm 16 noem ook drie dinge waarom God se teenwoordigheid vir ons nodig is. Die eerste het ons reeds genoem – ons wil veilig voel. Die tweede is omdat Hy vir ons die pad van die lewe wys. Sonder hom is ons soos kinders wat in die donker verdwaal het. In die derde plek maak sy teenwoordigheid ons lewe vol vreugde. Sonder hom sou die lewe maar bra vreugdeloos wees.
Hans du Plessis se Griekwagebed – Psalm 42, bevat die volgende reëls: “Ek sit hyl op die Grootdyn en my siel kreen, dit smaak my die onse Jirre los my wee alleen, ma dan sien ek, nee, hier neffens my sit God.”
Hierdie “sit van God langs my” hou nooit op nie. Jesus belowe mos “Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.”
Gebed: Baie dankie dat U elke oomblik van elke dag en nag styf langs my sit sodat ek nooit hoef bang te wees vir die lewe nie. Gebruik my ook om u teenwoordigheid vir ander mense 'n werklikheid te maak sodat hulle ook sonder vrees kan lewe. Amen.