Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Gelei deur die Gees - 5 September 2025

Ben Fourie
 
Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die volle waarheid lei. Johannes 16:13a, 2020-vertaling
 
Ek het al dikwels gehoor mense sê dat die Gees hulle gelei het om dit te sê of dat te doen. Dan het ek dikwels gewens ek kan ook so seker wees dat die Gees my gelei het, veral in die lig van ons gesprekke sover in die reeks oor ons taak in die wêreld. Hoe weet ek wat ek in 'n sekere situasie moet doen of sê om die werk van die Here te bevorder? Is dit wat ek doen of sê nie dalk juis besig om die huis wat gebou word baksteen vir baksteen af te breek in plaas van op te bou nie?
 
Wat beteken dit dan as Jesus vir ons sê dat die Gees ons in die volle waarheid sal lei? Ek het al verskillende antwoorde op die vraag gehoor, maar persoonlik glo ek dat Hy ons slegs deur die Heilige Skrif wil lei. Die Gees het die Bybelskrywers geïnspireer om alles aangaande Jesus neer te skryf.
 
Die Nuwe Testament bevat nie ander dinge as wat Jesus aan sy dissipels bekend gemaak het nie, maar Die Heilige Gees “verduidelik” vir ons alles wat Jesus gesê en gedoen het. Die Gees wil nie elke nou en dan 'n nuwe openbaring maak nie, maar Hy wil die inhoud van die Skrif oopmaak sodat ons dit kan verstaan en uitleef.
 
Dit beteken nie dat ons nie die Skrif mag lees en verstaan teen die agtergrond van die tydvak waarin ons leef nie. Die Gees help ons om die Skrif te interpreteer vir die eeu en denkraamwerk waarin ons leef, maar sonder dat die kernwaarhede daardeur verander word.
 
Hoe weet ek of ek die leiding vanuit die Skrif reg verstaan? Daar is verskeie riglyne in die Woord self. Heel eerste moet ek myself vra of dit wat ek wil sê of doen, tot eer van God sal wees. Daarna kan ek vra of dit tot heil en opbou van myself en my medemens sal wees. Verder of dit ook sal bydra tot my eie geestelike groei en sodoende bydra tot die opbou van God se kerk in die wêreld.
 
As ek op hierdie vrae positief kan antwoord, kan ek seker wees dat dit wat ek “hoor” wel van die Heilige Gees af kom.
 
Gebed: Ek wil so graag reg doen, maar ek bely dat ek nie altyd seker is wat om te sê en wat om te doen nie. Lei my op die regte spore Heilige Gees, en laat my volgens die Woord optree. Amen
Previous article: Hoe getuig ek? - 8 September 2025 Prev Next article: God se genade is vir vandag - 4 September 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.