Hoe getuig ek? - 8 September 2025
Ben Fourie
Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde. Handelinge 1:8, 2020-vertaling
Ons raak soms so ietwat bekommerd as dit by die saak van getuienis kom. Ons wonder wat presies van ons verwag word. Hoe en waar moet ek getuig? Gaan ek nie dalk voor mense 'n gek van myself maak nie? Wil mense nog in die tyd waarin ons leef regtig luister as ek getuig of gaan ek hulle nie dalk verleë maak om na my te luister nie? Kom ons probeer 'n antwoord soek op die vraag van getuienis.
Toe ek 'n skoolkind was het die inspekteur in jou matriekjaar by die skool opgedaag en dan moes jy vir hom sommer so uit die vuis uit oor 'n onderwerp praat wat hy vir jou gee. Ek was een van die wat dit op Engels moes doen. Vir 'n kind van die Noordweste waar Engels maar selde gehoor is, was dit 'n ware beproewing. Om skielik op 'n dag in 'n situasie te beland waar die omstandighede van jou verlang dat jy oor God moet getuig, kan dit net so senutergend wees. Nie omdat jy nie vir God lief is en graag oor Hom wil getuig nie, maar gewoon omdat ons dikwels soos by die inspekteur nie lekker weet wat om te sê nie.
Is dit enigsins nodig dat ek mondelings moet kan getuig? In sommige gevalle ja, soos wanneer iemand die Here se Naam misbruik. Dan mag ek nie stilbly nie ongeag hoe mense my gaan behandel. Dikwels is my alledaagse optrede wat van my geloof getuig, egter heeltemal genoeg. As my bure byvoorbeeld sien dat ek gereeld op 'n Sondagoggend op pad kerk toe is, is dit al 'n groot stuk getuienis.
Getuienis is ten diepste 'n lewe deur die Gees. Ek hoef nie noodwendig 'n ingewikkelde gesprek oor geestelike sake te voer nie. Ek moet net dit wat ek in die Bybel ontdek het, kan oorvertel en dit daagliks uitleef.
Gebed: Here Jesus, ek bid dat U my sal help om deur woord en daad 'n getuie vir U te wees. Amen