God se genade is vir vandag - 4 September 2025
Ben Fourie
Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons juig en ons in Hom verheug. Psalm 118:24, 2020-vertaling
'n Groot oorwinning is behaal, want die vyande van God se volk is verslaan. Die hele volk is by die tempel bymekaar om die Here te loof en te dank. In pragtige taal beskryf die digter hoe hulle in die Naam van die Here die oorwinning behaal het. Die volk kyk terug na die groot oorwinning maar ook vorentoe na die toekoms van die volk.
In Psalm 118:22 lees ons: “Die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword.” Die klein nietige volkie word 'n hoeksteen vir die nasies omdat hulle die volk van God is, gister, vandag en môre. Jesus haal in Lukas 20:17 die vers ook aan as verwysend na Homself, so die blik op die toekoms gaan veel verder as die gebeure in die tyd waarin die psalm geskryf is.
Terugkyk en vorentoe kyk is baie belangrik, maar in ons teksvers kry ons ook die indruk dat God se volk ook na die onmiddellike kyk. Die feesdag vir die oorwinning moet nou gevier word. 'n Mens kan so in die verlede leef of so uitsien na die toekoms, dat jy die perspektief op God se genade vir vandag verloor. Daarmee saam verloor jy dalk die wonder van aanbidding en lof en diensbaarheid en vergeet jy om hier en nou te juig en jou in Hom te verheug. Daarmee saam vergeet ons dalk om vandag voluit besig te wees met die bouwerk aan God se huis.
Om terug te staan en ons bouwerk van gister met genoegdoening te bekyk, is lekker en het waarde. Om vorentoe te kyk en te beplan hoe die gebou in die toekoms moet lyk, is onontbeerlik. Nie een van die twee mag egter ooit maak dat ek byvoorbeeld die mense wat vandag op my pad kom sal miskyk nie. Hulle is vandag honger of koud of hartseer of siek. Dit kan nie wag tot môre nie.
Wanneer ek God se genade vir my vandag raaksien, maak dit my oë oop vir hulle wat ook my genade nodig het.
Gebed: Hoe kan ons U ooit genoeg loof en prys en ons in U verheug? Dankie dat U my vandag weer liefhet soos U my gister liefgehad het en ook môre sal liefhê. Amen