Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Ken jouself - 3 September 2025

Ben Fourie
 
Die tollenaar het egter op 'n afstand bly staan, en wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, maar het op sy bors geslaan en gesê, ‘O God, wees my, die sondaar genadig!'  Lukas 18:13, 2020-vertaling
 
Om met iemand 'n besondere verhouding te kan hê is dit nodig dat jy die persoon baie goed ken. Om met God 'n besondere verhouding te hê is dit ook nodig om Hom baie goed te ken. Ons het gister daarna gekyk. Ons weet nou ook al dat dit die werk van die Heilige Gees is om vir ons kennis van God te gee. Die Gees wil ons ou insigte en oortuigings met nuwe insigte en oortuigings vervang.
 
In enige verhouding help dit nie dat ek die ander persoon goed ken as ek nie ook myself goed ken nie. In ons verhouding met God wil die Gees dan ook vir ons nuwe insigte en oortuigings aangaande onsself gee. Voordat ek nie myself ken nie, kan ek nie weet hoe my verhouding met God werklik lyk nie.
 
Die gelykenis waaruit ons teks vir die dag geneem is, is 'n goeie voorbeeld van hoe verskillend twee mense na hulleself kyk. Die Fariseër dink hy ken homself, maar is eintlik met selfbedrog besig. In sy eie oë is hy 'n besondere persoon. Luister wat sê hy in Lukas 18:11: “God ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg nie ...”. Dan stal hy sy ander goeie hoedanigede uit, dinge soos twee keer 'n week te vas en 'n ruim bydrae van een tiende van al sy inkomste te gee. Hy het 'n baie hoë dunk van homself en daardeur verraai hy die feit dat hy homself maar swak ken, want bitter min van ons is so goed soos wat ons dink ons is.
 
Die tollenaar ken homself egter alte goed en stel homself aan God voor as 'n sondaar wat genade nodig het. Hy weet presies wie hy is en wat hy van God nodig het. Sy verhouding met God sal soveel inniger wees, want hy besef sy afhanklikheid van God se genade.
 
Gebed: Soos die tollenaar kan ek maar weer vandag net pleit dat U ook vir my, 'n arme sondaar genadig sal wees. Amen
Previous article: God se genade is vir vandag - 4 September 2025 Prev Next article: Leer God ken deur sy genade - 2 September 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.