Leer God ken deur sy genade - 2 September 2025
Ben Fourie
Soos oral in die wêreld, het die evangelie van die dag dat julle van God se genade gehoor en dit werklik verstaan het, ook onder julle begin vrug dra en groei. Kolossense 1:6, 2020-vertaling
Ek is iemand wat graag alles wil uitredeneer. Ek sukkel byvoorbeeld om idees wat te abstrak is my eie te maak, maar ek begin al meer besef dat ek nie vir God deur my denkprosesse kan uitredeneer nie. Hy is eenvoudig te groot en almagtig en anders as enigiets waarmee ek daagliks in my lewe te doen kry.
Daar moet dus 'n ander manier wees hoe ek Hom kan leer ken. Dit is baie belangrik dat ek Hom sal ken en iets sal verstaan van sy genade. As ek Hom nie ken en sy genade werklik verstaan nie, sal ek ook nie 'n rol kan speel in die opbou van sy kerk en sy koninkryk in die wêreld nie.
Dit lyk vir my asof die enigste manier waardeur ons God kan leer ken geleë is in wat Hy doen. Hy het Homself aan ons geopenbaar deur die manier waarop Hy deur die eeue heen met mense gewerk het, soos opgeteken in sy Woord, en deur talle verhale in ons eie tyd van hoe mense ervaar dat God met hulle besig is. Die goue draad wat deur alles loop, is God se liefde en sy genade. Ek kan Hom werklik net deur hierdie twee begrippe leer ken.
Soos ek dit verstaan is sy genade nie soseer “iets” nie, maar eerder 'n “houding” of “gesindheid” teenoor ons. Genade is dan nie iets wat in werking tree wanneer iets goeds met ons gebeur nie. Mense sê maklik die feit dat hulle 'n motorongeluk oorleef het, is net God se genade, maar genade is soveel groter en omvattender as dit. God se genade beteken eintlik sy hele verhouding tot die mens en soos dit veral na vore kom in die feit dat ons nie werklik sy liefde vir ons verdien nie. Op die ou end is dit net genade. Die wet sê ons is skuldig, maar deur genade en liefde spreek God ons vry.
Gebed: Baie dankie dat U nie na my lewe kyk met die oog van 'n kwaai pa nie, maar met die oog van 'n genadige Vader. Amen