Kosteberekening - 1 September 2025
Ben Fourie
Want wie van julle wat 'n toring wil bou, gaan nie eers sit en bereken die koste, om te sien of hy genoeg geld het om dit te voltooi nie? Lukas 14:28, 2020-vertaling
Wanneer 'n mens 'n gebou wil oprig moet jy 'n bourekenaar kry wat die argitek se planne neem en 'n berekening doen van wat dit sal kos om die gebou op te rig. Onlangs het ons by 'n baie groot bouprojek verbygery wat halfpad gebou is en nou al jare lank onvoltooid staan. Iemand het hier 'n reuse berekeningsfout gemaak.
Jesus gebruik hierdie voorbeeld om dit vir ons duidelik te maak dat die keuse om Hom te volg baie duidelike gevolge het. Om Hom te volg, is werklik nie 'n ligtelike saak nie en 'n mens moet bereken of jy kans sien vir die eise van dissipelskap. Hier is nie plek vir berekeningsfoute nie. As jy vir Hom kies is jy voltyds 'n werknemer op sy bouterrein. Jy kan nie maar een dag by die huis bly en 'n ander dag 'n bietjie see toe gaan nie. Dit vra werklik van jou om nuut te dink.
In jou berekening moet jy weet dat niemand, ja selfs jou familie en natuurlik ook jyself, belangriker is as God nie. Jy sal eers die belange van God se koninkryk in ag moet neem en daarna jou eie. Jy sal verder ook moet besef dat die paadjie smal is en jy sal bereid moet wees om jou kruis te dra. Baie mense wat vir jou belangrik is, sal dalk nie die pad saam wil loop nie. Derdens noem Jesus in Lukas 14:33 ook ons besittings: “Net so kan nie een van julle wat nie van al sy besittings afstand doen, my dissipel wees nie.” Nee, jy hoef nie al jou goed weg te gee nie, maar niks van jou goed mag nooit vir jou belangriker raak as God nie.
Lyk dit dalk of Jesus ons wil afskrik om 'n Christen te word? Nee! Jesus wil net vir ons wys dat Christenskap nie iets is wat maar so op die rand van ons lewens bedryf kan word nie. Dit moet die middelpunt daarvan vorm.
Gebed: Here Jesus, U het so baie vir ons opgeoffer. U het u hemelse woning verlaat om tussen mense te kom bly. U het u lewe vir ons aan die kruis opgeoffer. Help my asseblief om werklik ten volle vir U te leef. Amen