Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dit wat werklik saak maak - 26 Augustus 2025

Ben Fourie
 
En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander, deur julle denke te vernuwe. Romeine 12:1-2a, 1983-vertaling
 
As daar van jou gevra word om dit wat vir jou die heel kosbaarste is weg te gee, wat sou dit wees? 'n Mens dink dadelik aan jou lewensmaat of jou kind of iemand vir wie jy baie lief is. Kom ons maak dit makliker en dink aan 'n gewone besitting. Daar is so baie goed wat vir my kosbaar is soos sekere boeke, geskenke van my vrou, 'n horlosie wat aan my oorlede vader behoort het. Ek sal regtig nie weet wat ek sou weggee nie.
 
Nou kom Paulus in hierdie deel uit Romeine en doen 'n beroep op my dat ek myself moet weggee. Dit klink vir my baie erg en eintlik half onmoontlik. Hoe gee jy jouself weg? Dit is so strydig met ons menslike natuur. Dink net. Om myself weg te gee sal van my 'n enorme kopskuif vra en dit is presies wat Paulus hier sê: “laat God julle verander, deur julle denke te vernuwe.”
 
Ek moet myself los dink van wat vir 'n mens natuurlik is, naamlik om myself eerste te stel, want God vra iets heeltemal nuut. Hy vra dat ons Hom die kans moet gee om deur die Heilige Gees ons manier van dink oor Hom en die mense en die wêreld waarin ons woon, te verander. Die nuwe denke behels dat ek nie meer aan myself as die middelpunt dink nie, maar myself sal weggee “as lewende en heilige offer wat vir God aanneemlik is”.
 
Hoe kry ek dit reg? In Romeine 12:3 gee Paulus vir ons 'n baie belangrike riglyn wanneer hy sê: “Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie.” My skoonpa het graag die uitdrukking gebruik – moenie soveel van jouself dink dat daar nie nog plek is vir ander mense om iets van jou te dink nie.
 
Laat bogenoemde ons wegspringplek wees.
 
Gebed: Here, ek bid dat U my sal help om die ou ek wat so dikwels op die voorgrond wil wees, af te lê. Help my om heeltemal nuut te dink oor wat my plek in u huis hier op aarde is. Amen
Previous article: Maak 'n verskil in die wêreld - 27 Augustus 2025 Prev Next article: God roep almal vir 'n besondere taak - 25 Augustus 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.