Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God roep almal vir 'n besondere taak - 25 Augustus 2025

Ben Fourie
 
... onder wie julle ook is, julle wat deur Jesus Christus geroep is – aan al die geliefdes van God wat in Rome is, geroepe heiliges ... Romeine 1:6-7a, 2020-vertaling
 
Ons lees oral in die Bybel dat mense geroep word. In die Ou Testament roep God vir Abraham uit Ur, Josef word na Egipte geroep en Moses daar waar hy by sy skoonpa skape oppas. Verder ook rigters soos Gideon en Debora, profete soos Elia, Samuel en Jesaja, priesters soos Aäron, konings soos Dawid en Hiskia en ander soos Daniël. In die Nuwe Testament is daar Maria, die moeder van Jesus, Johannes die Doper, apostels soos Petrus en Johannes, sendelinge soos Paulus en Timoteus en ook sy volgelinge wat in Rome is. Elkeen van hierdie uiteenlopende groep mense se roeping was gekoppel aan 'n baie besonderse opdrag.
 
Hierdie groep is natuurlik nie al wat geroep is nie. Daar was nog talle ander in die Bybel en daar word nog elke dag nuwe mense geroep, mense soos ek en jy. Die hoofdoel waarom God mense roep, is sodat hulle aan hom kan behoort. Wanneer mense antwoord op hierdie roepstem en vir God as hulle God aanneem, kom die tweede hoofdoel van ons roeping na vore, naamlik om in die wêreld God se verteenwoordigers te wees. Ons kan ook van ambassadeurs praat.
 
In die gewone diplomatieke diens word ambassadeurs gewoonlik deeglik gekeur omdat hulle 'n land se “gesig” by 'n ander land se regering is. Hulle kry ook spesiale opleiding en die nodige “gereedskap” om hulle taak te kan verrig. God keur ons ook baie goed, nie op grond van ons besondere vermoëns nie, maar op grond van hoe lief Hy ons het en ons Hom het.
 
Wanneer God ons roep om namens Hom in die wêreld op te tree, rus Hy ons behoorlik toe en kry ons baie stukke “gereedskap” om ons taak in die wêreld te kan uitvoer. Van hierdie “gereedskap” noem Paulus 'n hele paar in Romeine. Ons word op grond van geloof geregverdig (Romeine 5:1); in geloof kry ons toegang tot God se genade (Romeine 5:2); daar is geen veroordeling meer nie (Romeine 8:1) en ons is meer as oorwinnaars (Romeine 8:37). As ons self hierdie dinge in ons lewe ervaar, kan ons ook ander daarmee help om God te leer ken.
 
Gebed: Liewe Jesus, maak my asseblief 'n bruikbare ambassadeur. Amen.
 
Next article: Krag van die Gees - 22 Augustus 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.