Krag van die Gees - 22 Augustus 2025
Ben Fourie
God het ons tog nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. 2 Timoteus 1:7, 2020-vertaling
Die afgelope winter was maar bra koud hier op die Hoëveld waar ons nou woon. Wanneer die temperatuur saans sommer vroeg al 'n enkelsyfer is, was dit heerlik om knus in ons huis te sit met 'n lekker beker warm sop in die hand en 'n dik trui aan die lyf. Dan het 'n mens gevoel jy wil glad nie weer buite in die koue rondloop nie. Jy was skoon bang vir die byt van die winter.
Die geestelike huis waarvan ons die afgelope paar dae gepraat het, kan ook mettertyd so lekker knus voel dat 'n mens glad nie lus het om weer in die “koue” van die wêreld buite jou gemeente, jou vriendekring, jou familie, jou kultuurgroep, te gaan rondloop nie. Jy raak half bang om jouself bloot te stel aan “vreemdelinge”.
Nou weet ons egter dat hoe lekker dit ook al in jou eie huis mag wees, jy selfs in die winter nodig het om gereeld uit jou huis uit te kom. 'n Mens sal gou-gou stagneer as jy nie gereeld ook buite jou huis in die samelewing rondbeweeg nie.
Timoteus het ook “bang” geraak. Heel waarskynlik het hy groot teenstand van 'n groep Jode gekry wat dit vir hom in die gemeente baie moeilik gemaak het. Paulus gebruik 'n nogal sterk woord wanneer hy met Timoteus praat. Hy sê: “God het ons tog nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie”, inteendeel dit wat hy van God ontvang het, is krag. Die Heilige Gees gee ook aan ons die krag om in die koue wêreld, waar jy dikwels teenstand te wagte kan wees, die boodskap van Jesus Christus uit te dra. Die Griekse woord wat Paulus hier vir krag gebruik, is die woord waarvan ons woorde dinamies en dinamiet afgelei is.
In plaas daarvan om bang te wees vir wat mense mag dink of sê wanneer ons openlik van Jesus getuig, moet ons liewers die plofkrag van die Heilige Gees gebruik om 'n verskil in die wêreld te maak.
Gebed: Ons bid dat U ons elke dag sal vrymaak van die vrees dat mense dalk vir ons sal lag as ons van U getuig. Help ons om onverskrokke getuies vir U te wees. Amen