Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Maak 'n verskil in die wêreld - 27 Augustus 2025

Ben Fourie
 
"As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink. Romeine 12:20a, 2020-vertaling
 
Die denkskuif waarvan ons gister gepraat het en die riglyn om nederig te wees, moet nie in die lug bly hang nie, maar moet iewers grondvat. Die Bybel is tog nie mooiklinkende filosofieë oor die lewe nie, maar gee baie praktiese riglyne oor hoe ek as gelowige moet lewe en in die wêreld 'n verskil kan maak.
 
Ons moet bewus wees daarvan dat al vra God van ons nederigheid, Hy ons as belangrik sien in die uitbreiding van sy koninkryk in die wêreld. Ons moet besef dat ons in die wêreld 'n betekenisvolle en belangrike bydrae te maak het, anders help ons nuwe manier van dink ook maar niks. Die nuwe manier van dink vra juis dat ek diensbaar moet wees in God se koninkryk, ja dat ek selfs vir die vyand iets te ete en te drinke sal gee.
 
Dit is dan ook juis wanneer ek leer om beskeie oor myself te dink, dat dit kan oorgaan tot dienslewering in die wêreld. Om diensbaar te wees is om my gawes reg aan te wend. Ons het reeds vroeër in die reeks gepraat oor hoe die Gees ons toerus deur die gawes wat ons ontvang, maar dit is so belangrik dat ek graag nog weer iets daaroor wil beklemtoon.
 
Dit is nie belangrik watter gawe of dalk selfs meer as een gawe, die Gees aan my gee nie, maar oor óf en hoé ek die gawe wat ek ontvang, gebruik. Dalk is my gawe juis een van die nederigste en voel ek dat ek nie veel verskil in die wêreld sal maak nie. In 'n rubriek in "Die Burger" van 'n paar maande gelede sê professor Wilhelm Jordaan: “En as alles verby is en jy in die niet verdwyn laat jy iets na?” En dan haal hy die Engelse digter William Wordsworth in die gedig "Tintern Abbey" as volg aan: ”... that best portion of a good ... life: [The] little, nameless, unremembered, acts of kindness and love.”
 
As ek bogenoemde ook in my lewe as erfenis kan nalaat, het ek selfs my vyande iets laat proe van sy liefde.
 
Gebed: Ons dank U Here, dat U ons met ons talle gebreke wel nog kan gebruik. Help ons om raak te sien waar ons, al is dit dikwels op klein skaal, iets van u liefde aan ander kan oordra. Amen.
 
Previous article: Dien die medemens en dien so vir God - 28 Augustus 2025 Prev Next article: Dit wat werklik saak maak - 26 Augustus 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.