Lente: Nuwe lewe, omdat Jesus leef! - 8 Augustus 2025
Ewald Schmidt
Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. Aangesien die dood deur 'n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur 'n mens gekom. Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. 1 Korintiërs 15:20-22, 1983-vertaling
Die donkerste winter moontlik in enige mens se lewe is om sonder Jesus te sterf – om sy verlossing in ons lewe mis te loop. Die dood is die grootste struikelblok op ons lewenspad; Paulus noem dit tereg “die laaste vyand” (1 Korintiërs 15:26).
Maar Jesus bring lewe! Die mees lewensveranderende waarheid wat ons ooit kan ontdek, is dit: Jesus het opgestaan uit die dood – dit verander alles! Sy opstanding verander nie net ons hede nie, maar ook ons hele ewigheid. Sonder Hom sou die seisoene van ons lewens met ons dood stop – 'n laaste, hopelose einde. Elke sandkorrel wat deur die uurglas van ons lewens glip, sou net 'n herinnering wees aan hoe ons tyd op aarde onverbiddelik verbygaan.
Maar Jesus leef! Hy het die graf oorwin. Paulus noem Hom “die eersteling uit dié wat gesterf het” – die eerste van baie wat nog sal opstaan. Deur Adam het sonde en dood die wêreld binnegekom, maar God se genade en liefde is veel groter. Hy het sy Seun gestuur om in ons plek te sterf, sodat ons deur geloof met Hom verenig kan wees. Jesus sê self in Johannes 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.” Hy is ons pad na die Vader se huis toe.
Wat 'n troos: die dood is nie meer die einde nie – dit is die deur na God se ewige woning. Die ewige lewe is God se genadegawe aan elkeen wat in Jesus glo. (Lees Johannes 6:47)
Maar ons hoef nie te wag tot ná die graf om hierdie lewe te beleef nie, Jesus bring nou reeds 'n nuwe seisoen van lewe. Dit is lente in ons geestelike lewe vandag!
In Johannes 10:10 belowe Hy: “Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed.”
Wanneer ons Hom leer ken, ontvang ons die Heilige Gees. En die Gees bring vrug voort in ons lewens – vrug wat nie net onsself verander nie, maar ook die mense om ons raak: “Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, geloof, nederigheid en selfbeheersing.” (Galasiërs 5:22–23)
Wanneer hierdie vrugte sigbaar raak in ons lewens, breek 'n geestelike lente deur. Dan kry ons lewe betekenis – nie net eendag nie, maar reeds hier en nou. En saam met daardie betekenisvolle lewe kom 'n vaste hoop: dat God se liefde nooit sal ophou nie, nie eers in die dood nie.
Gebed: Here Jesus, dankie dat U aan die kruis vir my gesterf het, dat U die prys betaal het vir alles wat ek verkeerd gedoen het. Dankie dat U die dood oorwin het en die pad oopgemaak het na my Vader se ewige huis. Help my om vandag voluit vir U te leef, en om U liefde uit te straal na almal rondom my. Amen.