Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Somer: Die lewe is moeilik sonder die Here se seën! - 11 Augustus 2025

Ewald Schmidt
 
Ja, dag en nag was u hand swaar op my; my lewenskrag het weggekwyn soos in die hitte van die somer. Psalm 32:4, 2020-vertaling
 
Somer is vir baie van ons ons gunsteling seisoen. Ons assosieer dit met tye van groei na volwassenheid. In die natuur begin die lentebloeisels somervrugte word. By ons in die Bosveld is die bome groen, en groei die mooiste veldblomme as jy net bereid is om hulle te gaan soek. By ons is die somer die tyd van donderstorms, en strome water wat uit die berg uit loop. Maar dit kan ook baie warm en droog wees, so droog dat ons boeregemeenskap bekommerd raak oor hulle oeste.
 
In Israel duur die somer gewoonlik van Mei tot September. Hierdie tyd is gewoonlik baie warm en droog. In die suide van die land kan die temperature tot anderkant 40 grade Celsius styg. Dawid was 'n mens wat naby aan die Here, en naby aan die natuur, gelewe het. Die klein herderseun van sy kindertyd het koning van sy land geword. Maar hy het onthou hoe dit was om in wind en weer sy pa se skape op te pas.
 
As volwassene het Dawid baie foute gemaak. Hy het soms ver van die Here af weggedwaal. Psalm 32 is 'n getuienis van die Here se genade teenoor sondaarmense. Dit begin met die woorde: “Gelukkig is die een wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Gelukkig is die mens vir wie die Here sondeskuld nie toereken nie, en in wie se gees geen bedrog is nie.” (Psalm 32:1-2)
 
Dit is die ideale toestand van menslike bestaan, om in vrede met die Here te woon. Dit beteken nie dat ons nie foute maak nie. Maar in die somer van ons lewe bereik ons geestelike volwassenheid. Ons begin verantwoordelikheid neem vir ons verhouding met die Here. Die Heilige Gees wys vir ons wanneer daar fout is tussen ons en die Here, wanneer sonde vatplek gekry het in ons. Psalm 32:1-2 sê dat die Here ons nie ons skuld wil toereken nie, Hy wil dit vergewe, en ons skoonwas dat ons gees geen bedrog sal huisves nie.
 
Dawid het ontdek dat wanneer hy swyg oor sy sonde, dan kom die moeilikheid. Psalm 32:3 sê: “Toe ek stilgebly het, het my gebeente broos geword onder my gekreun die hele dag.” Waarop ons teksvers volg. 'n Warm, drukkende somer is nie pret nie! So is ons lewe ook moeilik wanneer ons nie vrede met God het nie. Wanneer Dawid die Here se hand as drukkend op hom ervaar, dan is God se bedoeling om hom terug te lei na daardie verhouding van intimiteit met God waarvoor hy geroep is. Dawid sê in Psalm 32:5 "My sonde het ek teenoor U erken; my sondeskuld het ek nie bedek nie. Ek het gedink, ek wil my oortredings teenoor die Here bely, en U het my sondeskuld vergewe.”
 
Die Here wil so graag vergewe, en die verhouding met Hom herstel. Wanneer jy in die somerseisoen van jou lewe is, gebruk die geleentheid om diep te groei in jou verhouding met die Here. Dawid moedig ons aan in Psalm 32:6: "Dit is waarom elke getroue volgeling tot U moet bid terwyl die geleentheid daar is.” Sonder die Here is die somer swaar om deur te gaan!
 
Gebed: Here, soms kan ek ook soos Dawid van U af wegdwaal. Hou deur u Gees aan om my terug te lei na die verhouding wat U met my wil hê. Seën my gees met die sagte somerreën van u genade, sodat ek kan groei en vrug dra tot u eer. Amen.
 
Previous article: Somer: Die tyd om te werk - 12 Augustus 2025 Prev Next article: Lente: Nuwe lewe, omdat Jesus leef! - 8 Augustus 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.