Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lente kom herinner ons aan God se getrouheid - 6 Augustus 2025

Ewald Schmidt
 
"So lank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie." Genesis 8:22, 1983-vertaling
 
In Genesis 6:5-8:22 lees ons van 'n donker tyd in die mensdom se geskiedenis. Die mense van daardie tyd het só verdorwe en gewelddadig geword dat God berou gekry het dat Hy die mens gemaak het (Genesis 6:5-7). In sy regverdige oordeel besluit die Here om die aarde met ’n groot vloed te reinig. Hierdie gedeelte is nie maklik nie – dit wys ons die dodelike gevolge van sonde. Maar te midde van oordeel, sien ons ook genade. Die Here het Noag se opregtheid raakgesien, en hom en sy familie gespaar. Hy het besluit om met hulle 'n nuwe begin te maak.
 
Ek wil nie te lank draai op die verhaal van die ark wat Noag gebou het nie. Hy het op bevel van die Here ‘n reuse skip gebou. Op die bestemde tyd het hy en sy familie, saam met die uitgesoekte diere aan boord gegaan om die groot vloed te oorleef. Nadat die water uiteindelik gesak het, kon Noag en sy familie weer veilig op droë grond hulle voete neersit. Een van die eerste dinge wat hulle gedoen het, was om ‘n offer aan God te bring. Toe Noag en sy familie uiteindelik uit die ark kom, bring hulle 'n offer aan God. En dan volg ’n keerpunt: “Ek sal nie weer so 'n ramp oor die aarde laat kom vanweë die mens nie ... Ek sal nie weer al wat lewe laat omkom soos Ek gedoen het nie” (Genesis 8:21). Hierin sien ons God se onvoorwaardelike genade. Hy besluit om nie weer die aarde met water te vernietig nie, al bly die mens geneig tot verkeerde dinge.
 
Met Genesis 8:22 stel God die natuurlike ritme van die lewe weer in werking – die vaste patrone van seisoene en tyd. Dit is ’n bewys van sy sorg: ongeag wie ons is, of ons Hom dien of nie, Hy voorsien in die wêreld se behoeftes. Daar sal altyd saaityd en oestyd wees, koue en hitte, somer en winter, dag en nag. Die lewe op aarde bly onder sy beheer.
 
Maar hoe kosbaar is dit nie om God te ken nie! Om nie net te leef van sy voorsiening nie, maar ook uit verhouding met Hom. Selfs wanneer dit voel asof alles rondom ons in duie stort, bly Hy die God wat sorg. Ons kan Hom vertrou – Hy hou alles in sy hande.
 
En ons leer nog ’n les: selfs ná die ergste storms gaan die lewe aan. Die Here kan weer iets nuuts begin, selfs wanneer ons alles verloor het. Hy bring herstel. Hy gebruik die seisoene — nie net in die natuur nie, maar ook in ons lewens — om ons te vorm, te versorg, en nuwe lewe te bring.
 
Lente is 'n herinnering daaraan: God gee altyd nuwe beginne. Nuwe geleenthede vir groei. Nuwe hoop. En 'n nuwe vertroue in sy getroue hand wat ons lei.
 
Gebed: Here, dankie dat U in genade ook met my die pad van die lewe stap. Dankie dat U teenwoordig is in elke seisoen van my lewe. Dankie dat dag en nag, somer en winter, koue en hitte onder U beheer is. Leer my om in die koue, donker, moeilike tye te vertrou op die nuwe seisoen wat U sal laat aanbreek. Amen.
 
Previous article: Lente: Nuwe lewe, omdat Jesus leef! - 8 Augustus 2025 Prev Next article: Lente as tyd van bruisende lewe - 5 Augustus 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.