Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lente as tyd van bruisende lewe - 5 Augustus 2025

Ewald Schmidt
 
Dink aan jou Skepper in jou jong dae, voordat die dae van teenspoed kom, en jare aanbreek waarvan jy sal sê, “Vir my is daar geen vreugde in nie”. Prediker 12:1, 2020-vertaling
 
Sommige mense sê grappenderwys dat die jeug op jongmense vermors word. Die indruk wat ouer mense het, is dat baie jongmense nie waardeer wat hulle tans het nie. Wanneer 'n mens in die lente van jou lewe is, is jy sterk, lewenskragtig, en vol hoop. Jy sien kans vir enige uitdaging. Daar is so baie nuwe ervarings om nog te ontdek, plekke om te sien en dinge om te doen. Wanneer 'n mens jonk is, het jy energie en lus om voluit te lewe. Jy is nog nie bewus van die gang van tyd nie, môre is nog 'n dag. Een van die grootste geskenke is om in hierdie tyd van jou lewe te leer om soos 'n kind te kan glo. Om met nuwe oë na die skepping rondom jou te kyk, en te ontdek hoe mooi dit is. Om nog mense maklik te vertrou, en die mooi in hulle raak te sien. Wanneer die geloof van jou ouers 'n voorbeeld en inspirasie is, dan glo jy ook maklik in die goedheid van die Here in die lente van jou lewe.
 
Ons jongmense lees nou nie graag dagstukkies soos hierdie nie. Dalk het die meeste van ons al 'n entjie weg gevorder daarvan dat mense ons as “jonk” sal beskryf. Vader Tyd en Moeder Natuur was dalk al rof met ons gewees. Ons het dalk nie meer al die energie van 'n tiener nie. Mense het ons al teleurgestel langs die lewenspad. Nie al ons gebede is beantwoord soos wat ons dit graag wou hê nie. Ons ken, soos die Prediker dit noem, dae van teenspoed. Soos ons ouer word en ons gesondheid begin ingee, kom daar jare wat vir ons moeilik is. Die Prediker waarsku ons dat die lewensreis moeilik word soos ons nader aan die winterseisoen van ons lewe beweeg.
 
Ons is dalk nie meer so jonk nie. Maar: vandag is die jongste wat jy ooit weer gaan wees! “Vandag” is nogal 'n baie belangrike tyd in die Bybel. Gister en sy slegte ervarings is verby. Môre se bekommernis moet ons leer om in die hande van die Here te los, het Jesus geleer in Matteus 6:31. “Vandag is die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees …” leer Psalm 118:24 (1983-vertaling) ons. Vandag is die dag waarin die Here vir ons brood gee, soos Jesus ons leer bid het. Op my motorfietsbaadjie is daar 'n slagspreuk: “It is never too late to have a happy childhood.” Ek kan kies hoeveel ek die ouderdom gaan toelaat om my pret te bederf!
 
Vandag is die beste dag om aandag te gee aan jou verhouding met jou Skepper, sê die Prediker. Hoe jonger jy begin, hoe stewiger word die fondament van geloof waarop jy jou lewe bou. Dan sal jou geloof staande bly wanneer die dae van beproewing opdaag. Vandag is ook die beste dag om iets te gaan doen met die energie wat jy het, wat jy eendag met 'n glimlag gaan onthou. Moenie vandag mors op beuselagtighede nie. Gaan doen iets wat saak maak, iets wat lekker is. Gaan kuier by 'n ou vriend, gaan soek iemand wie se dag jy net so bietjie beter kan maak. Bou die goeie herinneringe vandag wat jou eendag gaan dra wanneer jy nie meer kan beweeg soos jy wil en doen wat jy sou wou nie.
 
Gebed: Here, dankie vir die gawe van vandag. Dankie vir die lewe, en die gesondheid wat ek vandag nog beskikbaar het. Binne die beperkinge wat ek dalk mag beleef, help my om vandag voluit te leef, en goeie herinneringe te bou. Help my om U vandag bietjie beter te leer ken. Help my om my naaste se lewe vandag net so bietjie meer opwindend te maak. Amen.
 
Previous article: Lente kom herinner ons aan God se getrouheid - 6 Augustus 2025 Prev Next article: Lente as seisoen van nuwe liefde - 4 Augustus 2024 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.