Die seisoene van my lewe as werk van God se hand - 1 Augustus 2025
Ewald Schmidt
Dit is U aan wie dag en nag behoort, U wat aan die son en die maan hulle plek gegee het, U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van u hand. Psalm 74:16-17, 1983-vertaling
Hier in Augustusmaand is ons deeglik bewus van die seisoene in die natuur rondom ons. Hier in die Suidelike Halfrond was dit een van die koudste winters wat ek nog beleef het. Die koue sny sommer so deur murg en been! Teen Augustus begin die winde waai by ons, en weet ons: die lente is op pad! Dis amper tyd vir die nuwe groeiseisoen om aan te breek. Ons moet nog net so kort tydjie bly volhard, mooiweersdae is naby!
Die Bybel praat nogal baie van verskillende tye en seisoene in die natuur, en trek dit ook soms met beeldspraak deur na 'n mens se lewe. In die Bybel is daar hoofsaaklik twee seisoene wat beskryf word – die somer en die winter. Of dikwels ook: die reëntyd en die droë tyd. Daar was in bybelse tye al 'n begrip dat die son en die maan die seisoene en die dag se tye beïnvloed. Agter die vloei van tyd en die gang van seisoene is die Here se hand raakgesien, soos in vandag se teksvers. Hierdie maand wil ek so bietjie nadink oor seisoene in ons lewens, en die Here se hand daarin raaksien.
Psalm 74 is in 'n moeilike tyd geskryf. Die volk van die Here is op militêre gebied oorwin en die vyand het verwoesting gesaai. Die tempel is aan die brand gesteek, en elke plek waar gelowiges bymekaar gekom het, is vernietig (Psalm 74:7-8). Die Here se stem het stil geword, daar was nie meer profete nie (Psalm 74:9). Dit was verseker 'n winterseisoen in die volk van die Here se geskiedenis. Tog is selfs winter nooit die einde van die natuur se siklusse nie. In hierdie tydperk was daar nog steeds gelowiges wat aan die Here vashou, en op Hom vertrou vir uitkoms.
Die Psalm word aan Asaf toegedig, en hy spreek van vers 12 af sy vertroue uit in die Here wat in die verlede sulke magtige dinge gedoen het. Maar hy vertrou die Here as die God wat die seisoene in sy hande vashou. Die Here kan ook hierdie verskriklike winter laat verbygaan, en 'n nuwe seisoen van lente laat aanbreek. Daarom pleit Asaf dat die Here sy verbond sal onthou met sy volk (Psalm 74:20). Hy bid dat die Here sal ingryp en redding bring, dat die Here die tye van verdrukking sal laat verby gaan (Psalm 74:21).
Dit is nou winter in die Suidelike Halfrond en hier by ons lyk die natuur vaal en dood. Tog is die lente naby en sal die nuwe tekens van lewe, soos nuwe bloeisels en blaarbotsels, binnekort verskyn. Die wêreld rondom my voel ook nou vir my na 'n gevaarlike plek. Daar is so 'n laagtepunt wat haat, geweld, oorlog en misdaad in die wêreld meebring. Tog wil ek soos Asaf bly glo dat die lente naby is, en dat God weer tye van nuwe lewe en groei sal stuur. Daarvoor bid ek en daarvoor gee ek myself as instrument in God se hand. Mag jy, te midde van jou eie winter, bly glo dat die Here die seisoene van jou lewe in sy hand hou.
Gebed: Here, in die winter van hierdie wêreld roep ek na U. Here, verdryf die koue, bring nuwe vuur in my hart. Laat die nuwe lewe deur die Gees in my begin bot, dat ek weer vrug kan dra tot u eer. Amen.