Bruid van die Lam - 30 Julie 2025
Ben Fourie
"Kom hierheen, ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam." Openbaring 21:9b, 2020-vertaling
So 'n paar jaar gelede het ek en my vrou die wonderlike voorreg gehad om in die strate van Praag rond te dwaal. Omdat ons toerbegroting maar skraps was, kon ons nie in restaurante eet nie. Ons het meesal by supermarkte vir ons 'n broodjie, kaas en vrugte gekoop. Ons gebruik was om onsself te bederf met 'n yskoue Pilsener wat ons by die naaste kafee gekoop het. Dan het ons iewers in 'n parkie of op 'n bankie langs die straat gaan sit en die mense wat verbystap bekyk, terwyl ons die klein ete geniet het.
Eendag sit ons so en sien dat daar by 'n nabygeleë kerkie 'n troue aan die gang was. Ons was baie gelukkig om die bruid in haar pragtige trourok te sien opdaag. Haar gesiggie het gestraal van die vreugde. In ons wêreld van realisme, tegnologie en veranderende waardes is daar min dinge wat 'n mens se aandag so vasvang soos 'n bruid op pad na haar bruidegom. Ons het al baie bruide by baie troues gesien, maar hierdie enetjie het 'n besonderse indruk op ons gemaak.
Johannes gebruik in Openbaring verskeie kere die beeld van 'n bruid wat op pad is na haar bruidegom. Kom, sê die engel vir Johannes, kom ek wys vir jou iets besonders, kom ek wys vir jou die bruid van alle bruide, die vrou van die Lam van God self.
Diè bruid is ek en jy en elkeen wat ooit aan die kerk van God op aarde behoort het, tans behoort en in die toekoms sal behoort. Hierdie bruid van alle bruide kan ook elke dag met sterre in die oë en 'n stralende gesig op pad wees, want sy weet haar bruidegom het haar lief bo alles. Is Hy dan nie die Lam wat volgens Openbaring 5:6 geslag is nie? Hy is vanweë sy groot liefde gekruisig sodat sy bruid vir altyd saam met Hom in die hemel bruilof kan hou.
Gebed: Here, baie dankie dat U die kerk so liefhet soos 'n bruidegom sy bruid. Baie dankie dat ek ook deel is van u bruid op aarde. Amen