Lewe in die liefde van God - 29 Julie 2025
Ben Fourie
Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet is uit God gebore en ken God. 1 Johannes 4:7, 2020-vertaling
Johannes word nie verniet die apostel van die liefde genoem nie. In hierdie brief wat hy waarskynlik vir 'n groter gehoor as net een gemeente geskryf het, raak hy baie dinge aan. Sy betoog oor die liefde wat reeds in hoofstuk drie begin, bring egter verskillende aspekte van liefde na vore en loop dwarsdeur tot in hoofstuk vyf.
Jare gelede, ontmoet ek 'n persoon van Joodse afkoms wat uit Israel hier in Suid-Afrika was vir 'n internasionale byeenkoms. Een aand sit ons en gesels toe hy vir my sy pad van geloof vertel. Hy was 'n paar jaar voor ons gesprek ook vanweë sy werk in Suid-Afrika, maar toe was hy glad nie 'n godsdienstige persoon nie, selfs nie eers van die Joods godsdiens nie. Van die Christelike geloof het hy maar min geweet. Een aand nooi een van diegene met wie hy saam gewerk het, hom om die Sondag saam kerk toe te gaan. Uit blote nuuskierigheid gaan hy, maar kon natuurlik niks verstaan nie omdat die diens in Afrikaans was.
Tog het dit wat hy daar beleef het hom diep geraak, veral die liefde wat hy as totale vreemdeling van verskeie kerkgangers ontvang het. Hy het al meer belang gestel en soos sy kennis oor God en Christus meer geword het, het die vonkie van geloof gegroei totdat hy nie net 'n gelowige geword het nie, maar die hoof van 'n Christelike organisasie in Israel.
Soos wat hy God beter leer ken het, het sy liefde vir Hom ook gegroei. Alles het begin by dit wat Johannes hier skryf: “laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God”. Vanaf die persoon wat hom saamgenooi het kerk toe tot by die lidmate wat hy daardie dag ontmoet het, het Johannes se woorde – “elkeen wat liefhet is uit God gebore en ken God” – waar gemaak.
Agter die hele verhaal sit egter die woorde van Johannes in 1 Johannes 4:10: “Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het, en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes.”
Gebed: Hemelse Vader, ons kan maar net verstom staan dat u liefde so groot is dat U mense red wat soms maar baie min van U weet. Maak van ons die voertuie van u liefde om mense na U te trek. Amen