Liefde en geloof - 17 Julie 2025
Ben Fourie
Maar vandat Timoteus van julle af by ons aangekom het en die goeie nuus van julle geloof en liefde aan ons oorgedra het … 1 Thessalonisense 3:6a, 2020-vertaling
Families woon nie noodwendig soos jare gelede naby mekaar nie. Werksomstandighede en ander faktore maak dat ons dikwels ver uit mekaar woon, selfs in verskillende lande. Ons kommunikeer wel deur middel van sosiale media en kan mekaar oor baie groot afstande bereik.
Ek en my vrou was vir 'n jaar lank in dié posisie nadat ons dogter en kleinkinders verhuis het. Gelukkig is ons nou weer binne stapafstand van hulle af, maar ek onthou hoe ons nie kon wag om die gesiggies van die kleinkinders op die selfoonskermpie te sien nie. Ons heel eerste vraag was gewoonlik – hoe gaan dit met julle? Dan het ons dit geniet om te hoor wanneer dit goed gaan, maar was hartseer en bekommerd wanneer dit die dag nie goed gegaan het nie.
In Paulus se tyd was nuus dikwels maar skaars en het lank gevat om by jou uit te kom. Daarom stuur Paulus vir Timoteus na Thessalonika om vir die gemeente te vra – hoe gaan dit met julle? Wanneer die antwoord hom bereik is hy dankbaar en vol blydskap. Luister wat sê hy in 1 Thessalonisense 3:9 (1983-vertaling): “Hoe kan ons na behore aan ons God die dank bring vir al die blydskap wat ons voor Hom oor julle het?”
Hierdie blydskap gaan hoofsaaklik oor twee woorde, woorde wat onlosmaaklik by mekaar hoort – geloof en liefde. Sonder geloof in God kan ons nooit werklik weet wat liefde is nie en sonder liefde vir God en die mense rondom ons kan geloof nie bestaan nie. Dit is soos 'n fontein. Geloof is die stukrag agter die water van liefde wat uit die fontein opborrel. Sonder die krag van die geloof sal die liefde nooit sterk genoeg wees om op te borrel nie. Maar aan die ander kant sal selfs die grootste druk onder die aarde niks baat as daar nie water is om bo uit te stoot nie. Geloof sonder liefde is dooie geloof.
Mag ek maar vandag vir jou vra – hoe gaan dit met jou?
Gebed: Liefdevolle Vader, baie dankie dat U elke dag besorg is oor hoe dit met my gaan. Maak my asseblief ook iemand wat elke dag besorg is oor hoe dit met my medemense gaan. Amen