Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Liefde vir die vyand - 18 Julie 2025

Ben Fourie
 
Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg.  Matteus 5:44, 2020-vertaling
 
Die opdrag wat Jesus hier vir ons gee gaan absoluut teen die grein in, veral as 'n mens gaan kyk na wat die woord vyand beteken. My woordeboek gee die volgende verklaring: 'n vyand is iemand wat 'n persoon uit haat probeer benadeel; troepe van 'n staat teen wie 'n mens oorlog maak; iemand wat jou kwaadgesind is. Op die internet kry ek ook nog dat dit 'n persoon of groep is wat jy nie vertrou nie, van wie jy niks hou nie en wat jou probeer skade aandoen. Dat ons so iemand of groep moet liefhê, en selfs vir hulle moet bid, klink egter soos die ou spreekwoord sê, 'n bietjie dik vir 'n daalder. Tog is dit wat hier staan.
 
Hierdie opdrag kan nie in isolasie gesien word nie, maar moet gesien word in die konteks van die hele bergrede soos opgeteken in Matteus 5. Jesus draai met talle uitsprake die siening van sy tyd totaal op sy kop. Hy praat van armes van gees en treurendes wat gelukkig genoem kan word, sê dat die gebod oor moord nie net die neem van 'n lewe is nie, maar ook wanneer jy kwaadgesind is teenoor 'n ander pleeg jy 'n vorm van moord. Oor egbreuk en die neem van 'n eed verskil Jesus ook regstreeks van die gangbare opvatting.
 
Die opdrag oor liefde vir die vyand is dan deel van hierdie nuwe manier van kyk na hoe ons dink oor geloof en liefde. As ek in die koerant lees van iemand wat die moordenaar van 'n geliefde volkome vergewe het, vind ek dit eerlikwaar soms moeilik om te verstaan.
 
Dit is eers wanneer ek weer eens besef dat God ons, wat die oorsaak was van sy Seun se dood aan die kruis, volkome liefhet en volkome vergewe, dat ek iets daarvan verstaan. Hoe kan ek dan anders as om ook lief te hê, al is dit ook die vyand.
 
Gebed: Here Jesus, ek moet maar ruiterlik erken dat u opdrag om selfs die vyand lief te hê, soms vir my bitter swaar is. Help my om werklik so lief te hê dat ek selfs die wat die lewe vir my moeilik maak, kan liefhê. Amen
Next article: Liefde en geloof - 17 Julie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.