Familie van Jesus - 16 Julie 2025
Ben Fourie
Jesus sê vir haar: “Moenie my langer vashou nie, want ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Maar gaan na my broers en sê vir hulle, ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader, en na my God en julle God.’” Johannes 20:17, 2020-vertaling
Die Spreuke skrywer sê wel in Spreuke 18:24 vir ons is “daar ... 'n geliefde vriend wat nader is as 'n broer”, maar ek het 'n maand of wat gelede weer onder die indruk gekom van die uitdrukking wat sê dat bloed dikker is as water. My swaer in Kaapstad is oorlede en ons het so gou moontlik 'n vlug gehaal om by my suster te wees. Sy het baie goeie vriende, maar daar is min dinge wat so kan troos as 'n broer wat sy arms om jou sit en jou styf vashou. Familie is inderdaad goud werd.
Om familie van God te wees, is onoortreflik. In Johannes 15 noem Jesus sy dissipels nog sy vriende, maar nou skielik word dit “gaan na my broers”. Die Griekse woord vir broers verwys eintlik na meer as net 'n broer alleen, dit kan in wyer verband ook op ander familielede toegepas word. Tussen “vriende” van Jesus in Johannes 15 en “broers” van Jesus in Johannes 20, het iets ontsaglik groot gebeur.
In Johannes 15:13 sê Jesus: “Groter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende.” Die belofte het hy aan die kruis voltooi, maar nog meer as dit het plaasgevind. Hy het ook uit die dood opgestaan. Na die kruisdood en opstanding word hulle wat eers net “vriende” was nou familie van Jesus.
Maar daar is veel méér. Ons is nie maar net verlangs familie nie, ons word kinders van God – “my Vader, en julle Vader, en my God en julle God”. Nader familie as om 'n kind van iemand te wees kan 'n mens nie kom nie, en omdat ons kinders van God is, kry ons al die voordele van kindskap, waarvan die heel grootste God se liefde is. In 1 Johannes 3:1a lees ons: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word!” Omdat ons kinders is, skryf Paulus aan die Galasiërs, maak God ons ook sy erfgename en erf ons die ewige lewe saam met hom.
Gebed: Hemelse Vader, baie dankie dat ek 'n familie het vir wie ek lief is en wat ook vir my lief is, maar bo alles baie dankie dat ek ook deel kan wees van u familie. Amen