Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Pa en twee seuns - 15 Julie 2025

Ben Fourie
 
Hy was nog ver weg, toe het sy vader hom al gesien. Hy het hom innig jammer gekry, na hom gehardloop, hom omhels en hom gesoen. Lukas 15:20b, 2020-vertaling
 
Die 2020-vertaling van die Bybel se opskrif by die gelykenis is vir my die bevredigendste: die pa en sy twee seuns. Alhoewel die pa in Lukas 15:24 van die jongste seun sê: “hy was verlore en is weer gevind” het dit my nog altyd bietjie gepla dat die gelykenis genoem word “gelykenis van die verlore seun”, terwyl die gelykenis oor so baie meer gaan. Hier word immers lig gegooi op drie mense se optrede en elkeen van hulle speel 'n belangrike rol.
 
Eerstens sien ons die jongste seun. Hy is 'n losbol en 'n verkwister van sy erfporsie wat heeltemal te vroeg in sy skoot geval het. Dit is eers wanneer die lewe hom daar tussen die varke vasdruk dat hy onthou van hoe goed dit by sy pa se huis gesteld is.
 
Die ouer broer is ook 'n karakter op sy eie, iemand met wie 'n mens dalk simpatie kan hê. Briesend kwaad bly hy buite staan wanneer hy hoor dat die wegloopseun na sy mening alweer voorgetrek word. Sy lewe lank het hy hard gewerk in sy pa se besigheid en nooit is daar vir hom 'n vetgemaakte kalf geslag nie, ja selfs nie eers 'n bokkie gegee om saam met sy vriende te geniet nie.
 
Albei die seuns is so tipies mens, dink menslik en tree so op, maar die pa dink en doen heeltemal anders: bring vir hom mooi klere, bring 'n ring, bring sandale, slag die uitsoek kalf. Vir die oudste wat daar dikmond rondstaan sê hy: “My kind jy is altyd by my, en alles wat myne is, is joune.” (Lukas 15:31) By die pa is daar net suiwer liefde vir sy twee kinders, ongeag hoe hulle ook al optree.
 
So maak God ons Vader ook met ons.
 
Gebed: Hoe kan ons ooit vir U genoeg dankie sê dat U 'n Vader is wat geen onderskeid maak in u liefde vir u kinders nie. Dankie dat ek u kind kan wees. Amen
Next article: Wie of wat is die belangrikste - 14 Julie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.