Sodom, Gomorra en Nineve - 9 Junie 2025
Ben Fourie
Toe sê hy: "My Heer moet tog nie kwaad word nie! Ek wil nog net dié keer praat. Dalk word daar tien gevind." Die Here het gesê: "Ter wille van tien sal Ek dit nie verdelg nie." Genesis 18:32, 2020-vertaling
Maar Ek, Ek mag nie besorg wees oor Nineve nie, die groot stad waarin daar meer as honderd-en-twintigduidend mense is wat die verskil tussen regs en links nie ken nie, en ook nog baie diere. Jona 4:11, 2020-vertaling
Die twee verhale is baie bekend. In albei het ons te doen met stede waar, in Sodom en Gomorra, die inwoners se sonde “uitermate swaar” (Genesis 18:20) was en in Nineve hoor ons God sê: “die kwaad wat hulle doen, het opgestyg tot voor my.” (Jona 1:2) Daarom beplan God om die stede te verwoes, maar nie sonder dat hulle nog 'n kans kry nie.
In die geval van Sodom en Gomorra is daar 'n pleitbesorger, 'n man vol liefde vir sy naaste, Abraham. Hy pleit dat God tog die stede moet spaar al is daar net vyftig regverdiges en God gee toe. So hou hy aan totdat God bereid is om die stede te spaar ter wille van net tien regverdiges. Soos die verhaal ontvou, is daar ongelukkig behalwe vir Lot en sy gesin, geen ander regverdiges nie en word die stede wel vernietig.
By Nineve het ons 'n heel ander scenario met God wat self vir Jona as “sendeling” na Nineve stuur om hulle te gaan waarsku teen die vernietiging wat Hy beplan. Jona doen dit onwillig. Eers nadat hy probeer wegkom het van hierdie verantwoordelikheid deur na Tarsis te vlug, gaan hy na Nineve. In teenstelling met Abraham wou Jona nie sien dat Nineve se inwoners gered word nie. Wanneer Nineve se mense hulle wel bekeer, en God uit liefde en mededoë nie die stad vernietig nie, is Jona kwaad daaroor.
In die twee verhale sien ons vir God van wie Jona self sê: “... ek het geweet dat U 'n genadige en barmhartige God is, geduldig en oorvloedig in troue liefde, 'n God wat berou het oor die oordeel.” (Jona 4:2b) Ons het ook twee mense. Die een, uit liefde, wou hê dat God moet red en die ander een is kwaad omdat God uit liefde wel gered het.
Watter soort mens is ek? Hoe kyk ek na my medemens?
Gebed: Dankie dat U altyd vol liefde is vir ons. Maak my asseblief ook 'n Abraham soort van mens. Amen