Godsdienstigheid nie altyd gelyk aan liefde nie - 10 Julie 2025
Ben Fourie
Die Fariseërs het dit gesien en vir sy dissipels gevra: "Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?" Matteus 9:11, 2020-vertaling
Ek lees onlangs met verbasing van navorsing gegrond op die 2022-sensus wat aantoon dat Suid-Afrika een van net drie lande in die wêreld is waar statisties bewys kan word dat die Christelike godsdiens groei toon. Omdat die sensus gedurende Covid-19 gedoen is, is dit nie so akkuraat soos kan wees nie, maar tog genoegsaam dat sekere tendense waarneembaar is.
Daar is 85% van Suid Afrikaners wat hulleself as Christene beskou. Tel hierby ook nog mense van ander godsdiens groeperinge wat 'n hoë morele en etiese lewenswyse van hulle volgelinge verwag en Suid Afrika behoort een van die beste lande te wees om in te woon. Waarom dan my verbasing?
Ongelukkig lees ek ook baie graag koerante en ander Internetnuusdienste en kyk gereeld daarna op televisie. Geweld, moord, omkopery, lieg, steel en nog alles wat, kom daagliks voor. Ek is 'n anakronisme omdat ek uit eie keuse, behalwe vir Whatsapp, glad nie op sosiale media betrokke is nie. Tog hoor ek by my kinders en lees in die gewone media hoe uiters onbeskof en kru mense op sosialemediaplatforms kan wees. Hoe rym al hierdie negatiewe dinge met 'n bevolking waarvan net 2,9% aangedui het dat hulle geen godsdienstige betrokkenheid het nie?
Iewers was daar 'n groot fout met die navorsing of die sensus, of anders het baie, baie mense in ons land die groot gebod van die liefde misgelees. Die Fariseërs in Jesus se tyd het ook baie hoog opgegee oor hoe godsdienstig hulle is, maar 'n etery saam met tollenaars en sondaars? Ongehoord! Van die liefde van God vir die mensdom en van die liefde van mens teenoor mens het hulle weinig in hulle daaglikse lewe gewys.
En ek? Ek is ook een van die 85%. Sien mense in hoe en wat ek doen iets van die liefde van God wat alle verstand te bowe gaan of skuil daar dalk diep in my 'n stuk fariseër? Net ek en God sal werklik weet.
Gebed: Hemelse Vader, help my asseblief om so in liefde teenoor my medemense te lewe dat mense elke dag kan sien ek behoort aan U. Amen