Liefde vir sy volk - 8 Julie 2025
Ben Fourie
Omdat jy kosbaar is in my oë, geëer is, omdat Ek die Een is wat jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. Jesaja 43:4, 2020-vertaling
In die Ou Testament is die begrip van God se liefde vir die mens anders as in die Nuwe Testament. Die twee maak saam die som van God se liefde vir ons uit. Ons kan nie werklik begryp hoe omvattend God se liefde vir die mens is as ons nie albei onder oë neem nie.
In die Ou Testament leer ons God se liefde grootliks ken as ʼn verbondsliefde vir sy volk, terwyl die individu in die Nuwe Testament meer na vore kom. ʼn Mens lees maar enkele kere in die Ou Testament dat God spesifiek sê dat hy ʼn individu liefhet soos byvoorbeeld in 2 Samuel 12:24: “Die Here was lief vir hom”. Meesal is God se liefde altyd verbind aan die volk Israel soos ons uit vandag se teksvers kan sien.
Sy omvattende liefde vir sy volk moet egter nie gesien word as ʼn onpersoonlike liefde nie. Dit is diep persoonlik soos wat ons in Jesaja 49:15 (1983-vertaling) lees: “Kan ʼn vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie."
God vergelyk sy liefde vir sy volk met sekerlik die sterkste liefde wat daar in die wêreld is, die van ʼn moeder vir haar baba. Tog kan dit, soos ons ongelukkig soms in koerante sien, gebeur dat ʼn ma haar baba nie beskerm en versorg nie. Die Here sê al kan dit by mense gebeur, dit sal nooit by Hom gebeur nie, want Hy sal nooit sy volk onversorg laat nie. In Esra 3:11 is die volk besig om God te loof en te dank en dan sing hulle: “Want Hy is goed, ja, sy troue liefde oor Israel is vir altyd.”
Hierdie omvattende liefde van God gaan steeds voort, want gelowiges uit al die volke en tale oor die hele wêreld is nou die nuwe volk van God en Hy sal ons ook nooit vergeet of onversorg laat nie.
Gebed: Ons loof en prys U vandag dat U deur al die eeue nog steeds lief is vir ons. Amen