Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Bo alles die liefde - 7 Julie 2025

Ben Fourie
 
Maar beklee julle, bo en behalwe al hierdie dinge, met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind. Kolossense 3:14, 2020-vertaling
 
'n Mens skrik eintlik so half as jy van al die lelike dinge lees wat Paulus in hierdie hoofstuk opnoem: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, gierigheid wat afgodediens is, woede, driftigheid, kwaadwilligheid, lastering, onwelvoeglike taal en om vir mekaar te lieg. Hy skryf tog vir 'n gemeente van Christus. Het sulke goed dan ook onder kerkmense voorgekom? Blykbaar wel, waarom anders sou Paulus dit noem. En dit kom vandag nog voor, ook by gelowiges.
 
Sy volgende lysie klink baie beter, maar moenie dink dit is makliker om die dinge te doen as wat dit is om jou te onthou van die lelike dinge nie. Hy noem: innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld, verdra mekaar en vergewe mekaar. Verder ook nog dankbaarheid en die vrede van Christus. Leer en vermaan mekaar sê Paulus en laat die Woord in julle harte woon. Die eerste lysie is goed wat nie by gelowiges hoort nie en die tweede alles wat definitief deur gelowiges gedoen moet word.
 
Die beeld wat Paulus hier gebruik van klere wat aan- en uitgetrek word, is goed om ons te help verstaan. Hy sê die ou mens en sy gewoontes moet soos 'n stuk klere uitgetrek word en die nuwe mens moet aangetrek word. Die eerste stuk klere kan ons sien is besoedel met al die lelike dinge en 'n mens kan nie skoon klere daar bo-oor aantrek nie. Daarom moet ons eers ontslae raak van dinge soos gierigheid, woede, kwaadwilligheid en om vir mekaar te lieg. As ons baie eerlik is, kom dié dinge wel ook in ons lewens voor. Nou eers is daar plek vir die mooi klere van meelewing, goedheid, nederigheid en vrede, maar die belangrikste kom nog kort.
 
“Maar beklee julle, bo en behalwe al hierdie dinge, met die liefde”. Die positiewe dinge wat genoem word is soos ons gewone klere, maar daar bo-oor moet ons die pragtige jas van liefde aantrek. Eers dan is my geestelike uitrusting volledig. Die jas van liefde “is die band wat alles volmaak saambind”. Die Bybel vir almal vat dit baie mooi saam: ”Die belangrikste is dat julle lief moet wees vir mekaar, want dan sal julle regtig aan mekaar behoort en heeltemal wees soos God wil hê julle moet wees”. (Kolossense 3:14, Bybel vir almal)
 
Gebed: Ons kom vandag by U pleit om ons te help om die verkeerde dinge in ons lewe teen te staan en die goeie dinge wat U van ons verwag, uit te leef. Amen
Next article: Aan God se liefde is daar geen einde nie - 4 Julie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.