Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God se goeie nuus: Ons magtige Beskermer - 19 Junie 2025

Louise Gevers
 
hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”  Psalm 91:2, 1983-vertaling
 
Rots, toevlug, vesting, skild, skuiling. Goddelike guns. Hierdie evokatiewe woorde uit die Psalms verwys elkeen na 'n manier hoe God se beskerming beskryf, ondervind en deur sy volk gevier is. Lank voordat Dawid Goliat doodgemaak het, het verskillende stamme reeds teen mekaar oorlog gevoer, en niks het nog verander nie. In Salomo se woorde: "Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie." (Prediker 1:9b) Die mensdom het nog altyd beskerming benodig.
 
In ons wêreld is ons diep bewus van die behoefte aan beskerming, miskien nog meer so sedert die toename van gewaagde misdaad in ons gemeenskappe, asook van oorloë en onrus in ander lande wat in so 'n mate toegeneem het dat gevaar op alle vlakke dreig wat spanning, angs en onsekerheid verhoog.
 
Van jongs af was Dawid bewus dat die Goddelike beskerming in sy lewe afkomstig was van sy diep verhouding met God. Dit het ongetwyfeld bygedra tot sy dapperheid en moed gedurende 'n geveg, en met elke oorwinning het sy geloof gegroei. Toe hy teen Goliat gaan veg het, het hy net staatgemaak op sy belewenis van sy God. Slegs in geloof en met moed, en met ongesofistikeerde wapens in sy hand, het hy teen Goliat gaan veg. Baie jare later, toe al sy vyande in bedwang gebring was, kon hy opreg sê: "Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting." (Psalm 18:3) Vir Dawid was dit die seker wete dat God by hom is in gevaarlike omstandighede wat vir hom innerlike vrede en uiteindelik die oorwinning gebring het.
 
Die skrywer van Psalm 125 beskryf Dawid se belewenis van God se beskerming verder wanneer hy sê "Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk ... " (Psalm 125:2) en "Dié wat op die Here vertrou, is soos Sionsberg wat nie wankel nie en altyd vas bly staan." (Psalm 125:1) Die psalmdigter beeld beskerming hier uit as God wat sy kinders soos berge omring, hulle aan alle kante beskerm soos die arms van 'n liefdevolle ouer of 'n moederhen wat haar kuikens onder haar vlerke toevou om hulle te beskerm.
 
Die kern van die saak is om in 'n diep verhouding met God te wees en sy sorg intiem te ken. Slegs dan is dit moontlik om die inhoud van ons teksvers vir vandag te beaam want "Hy wat in die beskutting van die Allerhoogste woon, sal oornag in die skaduwee van die Almagtige." (Psalm 91:1, 2020-vertaling) God bring vrede en Hy doen sy belofte gestand: “Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,” sê die Here, “omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm. Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en hom in sy eer herstel." (Psalm 91:14-15)
 
Gister se oordenking oor God se onveranderlikheid, sy getrouheid en integriteit, herinner ons daaraan dat Hy altyd daar is, en selfs al kan ons Hom nie sien nie, verander dit nie wie Hy is nie.
 
God was die "Rots" vir ontelbare manne en vroue in die Bybel wat Hom gedien het, en is Hy dit vandag steeds vir sy kinders – vir diegene wat Hom intiem ken, sy integriteit volkome vertrou, sy Woord glo en die lewenspad in vaste geloof met Hom stap. Is Hy jou Rots?
 
Gebed: Liewe Vader, u liefde en genade is bo my begrip. Watter troos is dit nie om te weet dat U ons Rots en ons veilige vesting is nie, en dat wanneer ons U aanroep, U ons beskerm. Amen
Previous article: God se goeie nuus: Jy kan verander word - 20 Junie 2025 Prev Next article: God se goeie nuus: Hy is onveranderlik – jy kan Hom vertrou - 18 Junie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.