Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God se goeie nuus: Hy is onveranderlik – jy kan Hom vertrou - 18 Junie 2025

Louise Gevers
 
God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie, 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?  Numeri 23:19, 1983-vertaling
 
Tafelberg, wat statig na die hemel reik en soms bedek is met sy "tafeldoek" wat oor die kante val, is 'n manjifieke gesig – een wat my altyd verbly. Of dit nou in die veranderlike lig van die sonstrale omhul is, of die grou mis dit bedek, die berg is altyd daar – 'n permanente en standvastige ikoon, en vir my 'n herinnering aan God se standvastigheid en aan sy groot Goddelike krag.
 
Vandag se teksvers fokus ons aandag op God se onveranderlikheid en onwrikbare getrouheid. Hoe anders is Hy nie as ons nie! Hy lieg nie en Hy verander nie sy gedagtes nie. Hy verbreek nie sy beloftes nie en Hy laat nie mense in die steek nie. Hy het nie dubbele standaarde wat ons aan Hom laat twyfel nie. Hierdie is alles dinge wat ons as mense sukkel om te doen. Wanneer God iets beloof, of 'n antwoord gee, is dit betroubaar. Hy sal nooit terugdeins of ophou om ons lief te hê nie. Hy staan vas.
 
Paulus beskryf God se integriteit op 'n gepaste wyse wanneer hy met Timoteus oor Jesus praat: "... as ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie." (2 Timoteus 2:13) Ons as mense kan nie God se uitnemendheid bereik nie. Hoe eerlik ons ook al mag wees, en ondanks voorbeelde van opregte mense in die Bybel, is daar altyd mense wat sukkel om getrou aan hulleself te wees, soos die waarsêer Bileam (Josua 13:22) duidelik illustreer. Van hom word daar gesê "wie [hy] seën, is geseën, en wie [hy] vervloek, is vervloek.” (Numeri 22:6)
 
Bileam was nie 'n Israeliet nie, maar toe hy God se krag tydens die Israeliete se oorwinnings oor die Kanaäniete gesien het, het hy God geraadpleeg, alhoewel dit onwaarskynlik was dat hy in Hom as die enigste ware God geglo het. Uiterlik het hy God gehoorsaam, maar sy verdeelde hart het sy betrokkenheid by Balak, die koning van die Moabiete, beïnvloed. Laasgenoemde het hom laat kom om die Israeliete te vervloek sodat hy hulle kon verslaan en so sy land kon beveilig. Bileam, gevlei deur Balak se aandag, en versoek deur die rykdom en mag wat hy hom aangebied het, het toe sy dubbele standaarde gewys.
 
Alhoewel God vir Bileam gesê het: "Moenie met hulle saamgaan nie. Jy mag dié volk nie vervloek nie, want hulle is geseën.” (Numeri 22:12) het hy, toe Balak 'n tweede keer amptenare stuur, tog geswig en gegaan. Dit het God kwaad gemaak en dit het gelei tot 'n vernedering vir Bileam toe sy donkie, wat God laat praat het, hom tereggewys het. Maar soos mense dikwels doen, het Bileam onbeskaamd en hardkoppig voortgegaan met sy futiele sending.
 
Dit is God wat onwrikbaar is. In al vier Bileam se profesieë om die Israeliete te vervloek, was God getrou teenoor sy volk en het Hy verhoed dat hulle vervloek word. Elke keer het daar net seëninge uit Bileam se mond gekom, totdat die heidense koning die betrokkenheid van God moes erken en uitgeroep het: "Maak dat jy wegkom na jou eie plek toe. Ek het belowe om jou goed te betaal, maar die Here het gekeer dat jy betaal word.” (Numeri 24:11)
 
God is getrou. Hy verlang altyd net die beste vir ons. Hy is onveranderlik en geen vyand kan ons verslaan nie, want ons behoort aan Hom. Paulus vra: "As God vir ons is, wie kan teen ons wees?" (Romene 8:31, 2020-vertaling)
 
Gebed: Ewige Vader, u onwrikbare getrouheid bring aan my hoop en blydskap. Dankie dat ek U vertrou. Amen
Previous article: God se goeie nuus: Ons magtige Beskermer - 19 Junie 2025 Prev Next article: God se goeie nuus: Hy is waar - 17 Junie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.