Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God se goeie nuus: Hy is waar - 17 Junie 2025

Louise Gevers
 
Elia het nader gegaan na die hele volk en gesê: “Hoe lank gaan julle nog op twee krukke bly hink? As die Here God is, volg Hom; as dit Baäl is, volg hom.” Maar die volk het hom nie met 'n enkele woord geantwoord nie. 1 Konings 18:21, 2020-vertaling
 
Ons het stadig voortgekruie in die druk verkeer toe klein Audie se stemmetjie van die agtersitplek my gedagtegang onderbreek: "Ouma, wie is Baäl?" Wat gevolg het was 'n stortvloed vrae, onder andere "Wat is 'n vals god?" en "Hoekom bid hulle tot hom, as hy nie regtig bestaan nie?" (Soos julle kan sien, ek is nooit verveeld in die verkeer wanneer Audie by my is nie!)
 
Audie was besig om na die verhaal van Elia en die profete van Baäl te luister en sy was werklik verbaas dat vals gode bestaan het en nog meer verbaas dat mense hulle, in plaas van God, wou aanbid: "Maar hulle het die gode self gemaak, hoekom dink hulle die gode kan hulle help?' Wel, logiese vrae van 'n vyfjarige, en stel jou voor die lewendige ondervraging wat gevolg het. Haar vrae en opmerkings het my egter diep getref.
 
Elia kon ook nie die profete se verwarring begryp nie.
 
Waarlik, waarom sal enigiemand 'n kragtelose, mensgemaakte voorwerp aanbid in plaas van die ware God? Hoekom ignoreer ons God se gebooie en wysheid, of verwaarloos ons Godgegewe seëninge, wat Hy aan ons gee vir ons welstand en lewensvreugde, om eerder 'n ander pad te kies wat tot 'n leë lewe lei?
 
God het die Israeliete uit slawerny in Egipte gelei om hulle te bevry van 'n lewe wat hulle geestelik arm gemaak het en Hy het vir hulle riglyne vir 'n leefwyse as vry mense gegee. Wyse riglyne om nuwe prioriteite daar te stel om hulle liggaamlike en geestelike behoeftes aan te spreek sodat hulle met wysheid kon leef in die wildernis of waar hulle hulle ook al vestig. En dit het alles by Hom begin: "Ek is die Here jou God ... Jy mag naas My nie ander gode hê nie. Jy mag nie vir jou 'n gesnede beeld van 'n god maak nie – enige afbeelding van wat in die hemelruim daar bo of op die aarde hier onder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag nie voor hulle in aanbidding buig nie, en jy mag hulle nie dien nie ..." (Deuteronomium 5:5-9)
 
Dit was baie belangrik vir die Israeliete om hulle Verlosser te ken en Hom, eerder as een of ander vals god, vir hulle behoeftes te vertrou. Hulle het net so min geweet wat in die wildernis op hulle wag as wat ons, wanneer ons in die oggend wakker word, weet wat die nuwe dag vir ons inhou. God se aksies het egter bewys dat Hy getrou is aan sy woord. Hy het sy volk teen die kwaad beskerm wat vir hulle lyding sou veroorsaak en Hy het daardeur sy krag getoon. (Lees: Eksodus 12:31; 14:28; 16:12; 17:6; 17:31)
 
Ons beleef God se ware krag wanneer ons daagliks die lewenspad met Hom stap en weet dat in alle omstandighede Hy eg, teenwoordig en betroubaar is. Hy praat altyd die waarheid en Hy het ons lief "met 'n ewige liefde" (Jeremia 31:3) wat ons na Hom toe sal lei. Ons hoef nie deurmekaar en verward te wees nie.
 
Geloof in God is eenvoudig nie net 'n emosionele reaksie nie; dit is 'n bewuste keuse om die Een wat die waarheid is te vertrou.
 
Gebed: Genadige Vader, Ek verheug my in die wete dat U alleen God is en dat U die waarheid is. "Leer my u pad, Here; ek wil in u waarheid leef. Gee dat ek heelhartig vir u Naam ontsag sal hê. My Heer, my God, ek wil U prys met my hele hart; ek wil u Naam vir altyd eer." (Psalm 86:11-12) Amen
Previous article: God se goeie nuus: Hy is onveranderlik – jy kan Hom vertrou - 18 Junie 2025 Prev Next article: God se goeie nuus: Jesus is gewillig en barmhartig - 13 Junie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.