God se goeie nuus: Jy kan verander word - 20 Junie 2025
Louise Gevers
Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is. Romeine 12:2, 2020-vertaling
Dit was 'n voorreg om te luister na 'n praatjie deur Katherine Wolf oor haar rehabilitasiereis na 'n lewensveranderende beroerte in haar twintigs. Sy was oorweldig en emosioneel uitgeput, en dit was eers toe sy besef het sy het 'n keuse – om haar situasie positief te beskou en haar seëninge te tel, of negatief te bly en vir altyd te kla oor wat met haar gebeur het – dat sy uit die negatiwiteit kon ontsnap en haar lang pad na herstel kon aanvaar.
Nie een van die opsies was maklik nie. Die een het beteken dat, soos sy haar lewe weer van nuuts af moes opbou, sy verskriklike moeilike uitdagings met 'n positiewe gesindheid moes oorkom, terwyl die ander een beteken het dat sy maar net dieselfde sou bly en die slegste bly glo: dat sy vervloek en onwaardig is en bestem is om met skaamte te leef.
Is dit nie hoe ons ook soms voel nie?
In vandag se teksvers wanneer Paulus sê: "moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar [word] verander deur die vernuwing van julle denke", beklemtoon hy die belangrikheid van beheer oor ons eie gedagtes – dat ons self kan kies waardeur ons denke beïnvloed word, en onder leiding van die Heilige Gees God se wysheid en krag toelaat om ons te verander. Op dié manier kies ons koninkryksbeginsels en nie die wêreld se onsinnighede wat God se wil teëstaan, ons aandag aftrek van ons lewensdoel en verhoed dat ons die sagte stem van die Gees hoor sodat ons Hom kan verwelkom om ons van binne te verander nie.
Geïnspireer deur die teksvers: "Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit gaan nou uitspruit. Kan julle dit nie besef nie? Selfs in die woestyn sal Ek 'n pad maak, in die wildernis riviere" (Jesaja 43:19) het Katherine gekies om God te vertrou en na haarself te kyk as "uitgekies en nie vervloek" nie. God sal haar woestyn verander. Sy sal nie langer sê: "Wat as?" nie, maar wel "Wat is" en "oorweldig" met "oorvloed" vervang en deur hierdie nuwe denke begin om met hoop haar weg vorentoe te baan.
Katherine erken dat die 15 jaar wat gevolg het nie maklik was nie en dat dit meer gevoel het soos 'n gesukkel in 'n toneelstuk waarin sy gehaat het om te speel. Nou egter "verheug [sy haar] ook in die swaarkry" (Romeine 5:3, 1983-vertaling) en sy "sal [nie] teleurgestel word nie". (Romeine 10:11, 1983-vertaling). Sy sien haar swaarkry nie as 'n vloek nie, maar eerder as 'n merkwaardige erfenis waarmee sy haar mense kan seën. Vir haar het die woorde van Psalm 16:6: "Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi" waar geword.
Hoe reageer jy op slegte dinge wat in jou lewe gebeur? Waar soek jy vir antwoorde?
Die manier van hierdie wêreld is om Goddelike beginsels en waardes te verwerp en op 'n subtiele manier ons denke negatief te beïnvloed, ons te mislei en ons ontrou te maak, veral in moeilike tye. Dit is egter wanneer ons al die kitsoplossings verwerp en nie al die leë filosofieë najaag nie dat ons vordering in die Gees kan maak.
Jesus het gekom om ons vry te maak sodat ons deur geloof as oorwinnaars kan leef en in alles God vertrou. "Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is." (Romeine 8:28)
Gebed: Liefdevolle Vader, dankie dat ek "in alle omstandighede dankbaar [kan wees]" (1 Thessalonisense 5:18) omdat U my volgens u liefdevolle wil verander. Amen