God se goeie nuus: God is barmhartig teenoor sy skepping - 5 Junie 2025
Louise Gevers
Maar Ek, Ek mag nie besorg wees oor Nineve nie, die groot stad waarin daar meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat die verskil tussen regs en links nie ken nie, en ook nog baie diere? Jona 4:11, 2020-vertaling
Het jy al probeer om weg te hardloop van God af? Jona het. Was jy al ooit in die maag van 'n baie groot vis? Jona was. Toe Jona deur God geroep is om na die groot stad, Nineve, te gaan en hulle aan te spreek oor die kwaad wat hulle doen, het hy in die teenoorgestelde rigting gevlug, "weg van die teenwoordigheid van die Here af" (Jona 1:3) want hy het geen begeerte gehad om te sien hoe hulle 'n geleentheid gegee word om hulle sonde te bely en gered te word nie.
Maar niemand kan van die Here af wegvlug nie. In sy poging om dit te doen het Jona homself op see –in 'n kragtige storm – bevind waar hy aan die matrose bely het dat dit sy skuld was want hy was besig om weg te hardloop van sy God, "die God van die hemel wat die see en die droë grond gemaak het". (Jona 1:9) Hulle het hom oorboord gegooi en "die Here het dit so beskik dat 'n groot vis Jona insluk, en hy was drie dae en drie nagte lank in die vis se maag." (Jona 1:17)
In sy donkerste uur van nood, "in die hart van die oseane" (Jona 2:3) het 'n boetvaardige Jona bely: "In my nood het ek na die Here geroep, en Hy het my geantwoord. Uit die ingewande van die doderyk het ek om hulp geroep, en U het my stem gehoor. ... Maar tog het U my lewe uit die grafkuil opgetrek, Here my God! Terwyl die lewe uit my vloei, het ek net aan die Here gedink ... My gebed het U in u heilige tempel bereik. ... wat ek beloof het, sal ek betaal. Dit is die Here wat redding bring." (Jona 2:2,6b-7,9b)
God het hom gehoor en die vis beveel om Jona op droë land uit te spoeg. Hierdie keer het Jona God gehoorsaam en hy het verlossing in Nineve gaan preek. Toe God sien dat hulle opreg jammer was het Hy vol barmhartigheid besluit om hulle nie te straf nie. Dit het Jona ontstel, hy was woedend en hy het God aangespreek oor sy genade: “Ag, Here, is dit nie wat ek gesê het toe ek nog in my land was nie? Daarom het ek vroegtydig na Tarsis gevlug, want ek het geweet dat U 'n genadige en barmhartige God is, geduldig en oorvloedig in troue liefde, 'n God wat berou het oor die onheil. Here, neem dan nou maar my lewe van my weg, want dit is vir my beter om te sterf as om te leef.” (Jona 4:2-3)
Jona kon egter nie sien wat God kon sien nie.
Dit het begin met die koning wat van sy troon af opgestaan, sy koningsmantel vir 'n roukleed verruil en in die stof gaan sit het. Toe het hy sy mense beveel dat "niemand ... aan enigiets [mag] proe nie – nie mens of dier, beeste of kleinvee nie. Hulle mag nie eet of water drink nie. Mens en dier moet met 'n roukleed bedek wees. Die mense moet God ernstig aanroep en elkeen moet hom bekeer van sy slegte gedrag en van die geweld wat aan sy hande kleef ... dalk draai God terug ... dalk draai Hy om, weg van sy brandende toorn, sodat ons nie vergaan nie.” (Jona 3:7-9)
Die mense van Nineve se bekering is 'n voorbeeld vir ons; hulle het God nie geken nie, maar hulle het sy boodskap geglo, hulle skuld ernstig bely en hulle bekeer, terwyl Jona, met sy gevoellose hart en opstandige verset teenoor God – natuurlik nie iets wat ons ooit sal doen nie (!) – wou hê dat God die hele stad moes vernietig. Hy kon nie die parallel tussen sy eie sondigheid en hulle s'n sien nie; omdat God konsekwent en genadig is, het Hy Jona se gebed om hulp ook beantwoord.
God se woorde aan Jona in vandag se teks openbaar God se unieke hart vol barmhartigheid vir verlore mense – en vir hulle diere. Dit is nie dat Hy die verkeerde dinge nie raaksien nie, maar Hy vergewe elkeen wat hulle sonde bely en hulle bekeer. Ek hou baie van die beskrywing dat, alhoewel hulle (die mense van Nineve) nie eers die verskil tussen regs en links ken nie, hy dieselfde besorgdheid en deernis aan hulle sou bewys as aan die rebelse Jona. Dit leer ons hoe God alle mense sien – diegene wat Hom ken asook die wat Hom nie ken nie.
Voel jy nie ook getroos in die wete dat almal gelyk is voor God en dat sy barmhartigheid vir almal is nie?
Gebed: Genadige Vader, U is barmhartig, "geduldig en oorvloedig in troue liefde" (Jona 4:2). U is liefde. Dankie vir u genade en barmhartigheid wat U aan ons almal bewys, ten spyte van ons onwaardige houdings en sonde. Help my om nederig en berouvol te wees en elke dag meer soos U te word. Amen