God se goeie nuus: Hy ontmoet my waar ek is - 4 Junie 2025
Louise Gevers
Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is met jou, dapper kryger!” Rigters 6:12, 2020-vertaling
Onlangs het ek op 'n lieflike, sonnige dag gaan stap met ons bejaarde hond wat ons van 'n skuiling gekry het, toe sy ewe skielik begin om aan die leiband te rem om so die ritme van ons stap te versteur. Voor ons was 'n man besig om met 'n hark op die sypaadjie te werk wat 'n ou vrees uit haar klein hondjie dae teruggebring het. Alhoewel ons veilig by hom verby geloop het, het sy elke paar sekondes angstig omgekyk, duidelik met die verwagting dat hy agter ons sou aankom.
Die Israeliete, in die dae toe Gideon 'n rigter was, het heel moontlik ook dikwels oor hulle skouers geloer want hulle het in konstante vrees geleef oor die bedreiging van die magtige Midianiete. Hulle het probeer om hulleself in die berge te versteek, in grotte en skuilings gebly, weg van die Midianiete wat voortdurend hulle land ingeval, die oeste verniel, die vee gevat en die mense desperaat vir kos gelaat het.
Die Bybel sê: "Hulle het die Here, die God van hulle voorouers, ... verlaat ... Hulle het die Here verlaat en Baäl en die Astartes gedien. Die toorn van die Here het teen Israel ontbrand. Hy het hulle oorgelewer in die hand van plunderaars, en dié het hulle geplunder. ..." (Rigters 2:12-14)
Gedurende hierdie tyd was Gideon, bang in dié gevaarlike situasie, besig om koring uit te slaan in 'n parskuip om dit sodoende vir die Midianiete weg te steek, toe die Engel van die Here aan hom verskyn en hom groet met die woorde van vandag se teksvers. (Rigters 6:12)
Dapper kryger? Wie was dit? Maar die Engel van die Here het net geduldig na Gideon se eerlike vrae geluister: " ... as die Here dan werklik met ons is, waarom tref al hierdie dinge ons? En waar is al sy wonderwerke waarvan ons voorouers ons vertel het ... Maar nou het die Here ons verstoot en ons oorgegee in die hand van die Midianiete." (Rigters 6:13) Die Engel het nie dadelik Gideon se vrae beantwoord nie, maar Hy het hom verseker: “Omdat Ek met jou sal wees, sal jy die Midianiete verslaan asof hulle net een man is." (Rigters 6:16)
Gideon, versigtig en steeds onseker, vra toe vir 'n teken. (Rigters 6:17) God het toe geduldig ingestem en gewag vir Gideon om 'n maaltyd voor te berei wat Hy as 'n offer aangeneem het. Toe die Engel van die Here dit met sy stok aangeraak het, het: "Vuur ... uit die rots opgeslaan en die vleis en ongesuurde brood verteer" (Rigters 6:21) en Gideon het geweet dit was God en hy het geglo; net om weer bang te wees omdat hy God gesien het. God het hom egter gerusgestel: "Vrede vir jou! Moenie bang wees nie; jy sal nie sterf nie." (Rigters 6:23)
Wat 'n lewensveranderende ondervinding was hierdie nie vir Gideon nie. God het hom daar waar hy was ontmoet, geduldig met sy geloofskrisis gedeel en al sy angs en onsekerheid verdryf. God se groet het nie meer ongeloof by Gideon ontlok nie, dit het sy strydkreet geword. Gideon se fisiese situasie het miskien nog nie verander nie, maar sy geloof in God het wel en dit het hom in staat gestel om te glo dat sy situasie kan verander.
Beleef jy miskien 'n geloofskrisis? Kyk jy aanmekaar oor jou skouer? Skep moed! God wil ook met jou kwaliteit tyd spandeer. "Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil." (Psalm 34:9, 1983-vertaling)
Gebed: Here, U "is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid." (Hebreërs 13:8) Dankie dat U nooit ver van ons, u kinders, is nie, maar dat U ons ontmoet reg daar waar ons is. Help my om my in elke situasie eers na U te wend. Amen