God se goeie nuus: Hy ken my - 3 Junie 2025
Louise Gevers
want Hy, Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou in gedagte dat ons maar stof is. Psalm 103:14, 2020-vertaling
Dit bring troos en versekering dat ons geken word, of hoe? Dit bevestig dat ons bestaan. Vir ons as mense, bewus van al ons foute, is dit belangrik om aanvaar te word vir wie ons is.
Dit is iets waarin God uitblink. Hy het ons in die moederskoot geweef (Psalm 139:13) en Hy ken ons volkome. Hy ken ons beter as wat enigiemand anders ons ooit sal kan. Omdat Hy ons liefhet, voorsien Hy vir ons ongeag of ons nou voel ons is sy liefde werd of nie. Ek hou daarvan dat ek weet God ken my soos ek is en dat daar niks is wat ek vir Hom kan wegsteek nie.
In die pragtige Psalm 103 word God se heiligheid en grootsheid geloof en die psalm loop oor van al die voordele wat sy kinders deur sy liefde en barmhartigheid ontvang – karaktertrekke van God wat die psalmdigter reël vir reël beskryf.
Dan, in drie kort reëls beskryf die psalmdigter die voorwerp van God se liefde en aandag – die mens – wat uit stof gemaak is: "soos gras is sy lewensdae, soos 'n veldblom, so bloei hy. As die wind oor hom waai, is hy nie meer daar nie en sy plek ken hom nie meer nie." (Psalm 103:15-16) En tog is die mens so kosbaar vir Hom dat Hy "jou lewe vrykoop van die graf, jou kroon met troue liefde en ontferming ... jou begeerte met die goeie versadig. Soos 'n arend word jou jeug dan weer nuut." (Psalm 103:4-5) En in Psalm 103:12 lees ons: "So ver as wat die ooste verwyder is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredings van ons."
Alhoewel God so baie vir ons gee, verwag Hy nie meer van ons as wat ons kan gee nie. Hy bevry ons, en as ons daarop reageer sal Hy ons uit ons gemaksone neem en ons leer om Hom te vertrou en aan ons wys dat, met Hom aan ons kant, niks onmoontlik is nie. Omdat Hy weet waarvan ons gemaak is, ken Hy ook ons beperkinge en sal deur ons beproewinge by ons wees.
Die Bybel is vol van gewone mense, soos ons, wat buitengewone dinge vir God gedoen het want hulle het in geloof uit hulle gemaksone getree toe Hy hulle geroep het, en Hy het hulle elke tree van die pad gelei. Dink maar aan Moses, nederig en selfs bang om met die farao te praat. Tog het Hy God vertrou en 600 000 mense uit Egipte en 40 jaar deur die wildernis gelei.
Of Gideon, 'n bang, versigtige man met 'n lae selfbeeld wat op die Here se bevel: “Gaan met die krag wat jy het, en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Het Ek jou nie gestuur nie?" soos volg gereageer het: "Asseblief, my Heer! Hoe kan ek Israel verlos? Kyk, my familiegroep is die onbenulligste in Manasse, en ek is die jongste in my familie.” (Rigters 6:14-15) Maar Gideon het uit 'n punt van ongeloof na oorwinning gegaan deur versigtig die Here se opdragte uit te voer. Hy het die Midianiete met slegs 300 manskappe verslaan!
God is nie afgeskrik deur Moses of Gideon se beskroomdheid of eerlike reaksie teenoor Hom nie, want Hy het geweet wie hulle is. Hy word ook nie deur wie ons is afgeskrik nie. Hy roep ons en vra slegs dat ons Hom moet vertrou.
Gebed: Vader, dankie dat U ons ken en liefhet soos ons is, en dat U ons roep om U in u koninkryk te dien. Help my om in geloof te antwoord en op u onfeilbare liefde te vertrou. Amen