God se goeie nuus: Voetspore op die berge - 2 Junie 2015
Louise Gevers
Hoe lieflik op die berge is die voete van 'n boodskapper van vreugde, een wat vrede verkondig, wat 'n goeie boodskap bring, wat verlossing verkondig, wat vir Sion sê: “Jou God heers as koning!” Jesaja 52:7, 2020-vertaling
Nuus van enige aard kan mense se aandag trek, maar slegte nuus laat 'n mens dikwels beswaard, angstig en bekommerd voel. In teenstelling hiermee, bring goeie nuus vreugde en verligting. In ons wêreld is dit egter die slegte dinge wat klaarblyklik die middelpunt van belangstelling is – dood, vernietiging, natuurrampe, oorloë, geweld en mense wat geen agting vir menselewens het nie en hartseer by tragedie voeg.
Goeie nuus bring lig, warmte en 'n blye glimlag om met ander te deel. Dit is soos die son wat op 'n bewolkte dag deurbreek met 'n boodskap aan die wêreld wat sê: "Moenie moed verloor nie! Daar is hoop." Dit help dat ons 'n bietjie ophou dink aan al die negatiewe dinge wat ons so angstig en depressief maak, bang vir die toekoms, voortdurend op verdediging, onseker van wie ons is en waar ons inpas.
Hierdie gedeelte uit Jesaja skets 'n pragtige beeld van lig, van die vinnige voete van die boodskapper wat vreugdevol oor die ruwe berge dans, want God se boodskap is waar en sal harte verbly en deur sy vrede, redding en heilige heerskappy lewens verander.
Watter beter nuus kon hulle, en ons, nie ontvang as dat die God wat almal gemaak en liefhet, geen gelyke het nie en dat niks of niemand Hom ooit kan oorwin nie?
God se goeie nuus word gevind in die ontelbare, ware en betroubare beloftes wat Hy oor die jare aan sy kinders gemaak het: om vir hulle 'n God te wees (Jeremia 30:22), hulle te beskerm (Psalm 121:5-8), te bevry (Galasiërs 5:1), hulle vrede te herstel en hulle sondeskuld te vergewe (Jeremia 33:6-9).
In hierdie reeks kies ons om ons oë weg te draai van die mensdom se skreiende probleme en die verontagsaming van "alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees ..." (Filippense 4:8) en eerder die balans van ons ontstelde denke en gees te herstel deur ons in God se Woord te verdiep.
Deur God se almag te erken, sal ons ook besef hoe baie daar is om ons oor te verbly wanneer ons Hom, die enigste Skepper, dien. Hy wat Homself deur genade aan ons bekend gemaak het deur Jesus Christus, sy Seun, ons Verlosser, die enigste Een wat alle eer, heerlikheid en lof waardig is.
Ons God regeer! Hoe lieflik sal ons voete op die berge nie wees wanneer ons sy goeie nuus verkondig nie.
Sal jy dit doen?
Gebed: Hemelse Vader, mag hierdie waarheid ons lewens verander en ons harte met blydskap vul sodat ons in u kennis en genade sal groei en u goeie nuus van verlossing aan die wêreld sal verkondig. Amen