Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God se goeie nuus: Geloof en deursettingsvermoë - 6 Junie 2025

Louise Gevers 

maar as gevolg van die skare, kon hulle geen manier vind om hom in te dra nie, en het toe op die dakstoep geklim en hom en sy slaapmat tussen die dakteëls deur laat afsak, tot tussen die mense, reg voor Jesus. Lukas 5:19. 2020-vertaling
 
Onlangs, toe ek in 'n groep gevra is oor 'n boek wat 'n beduidende invloed op my lewe gehad het, was dit een uit my kinderjare wat uitgestaan het. Die boek het my soveel vreugde verskaf dat daar vandag steeds in die binneomslag in my kinderlike handskrif geskryf staan: "Ek het 'n hemelse VADER!"
 
Dit was nie 'n Bybel nie, maar 'n klein, grys, onbeduidende boekie met stories oor Jesus en swart en wit handgetekende illustrasies – nie juis iets wat 'n mens dink 'n kind se aandag sou trek nie – en tog was dit daardie tyd my skatkis – my eerste persoonlike ontmoeting met Jesus asook met ons vers vir vandag.
 
Die illustrasie van die verlamde man wat met toue deur 'n opening in die dak neergelaat is om hom na Jesus toe te bring, het my gefassineer. Dit het my ook vir die eerste keer bewus gemaak van Jesus se krag aan die werk – krag wat sy vriende duidelik gedink het werd was om na te volg.
 
Lukas beskryf die gebeure soos volg: "Die krag van die Here het in Hom gewerk om mense te genees." (Lukas 5:17b); "Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Vriend, jou sondes is jou vergewe" (Lukas 5:20b) en ook " “Ek sê vir jou, staan op, tel jou slaapmat op en gaan na jou huis.”(Lukas 5:24b) Is ons so verbaas soos daardie skare was wanneer ons verder in vers 25 lees: "Onmiddellik het hy daar voor hulle opgestaan, die slaapmat waarop hy gelê het, gevat en huis toe gegaan terwyl hy God prys"?
 
Hoe groot moes daardie manne se blydskap nie gewees het toe hulle sien hulle vriend is genees nie! Hulle deernis met 'n vriend gekombineer met aktiewe geloof in Jesus se krag om te kan genees, het gelei tot fisiese genesing, vergifnis van sonde en 'n man wat sy slaapmat vol vreugde huis toe dra. Sonder sy vriende sou die verlamde man steeds verlam gewees het, maar hulle liefde, vasberadenheid, deurstettingsvermoë en geloof het sy hopelose situasie heeltemal verander.
 
Verlamming is nie net 'n fisiese toestand nie. Angs, besluitloosheid, depressie – eintlik enigiets wat maak dat ons nie kan reageer nie – kan ons immobiliseer. Ons benodig vriende wat ons behoeftes kan raaksien, maar ons moet ook vriende wees wat onselfsugtige liefde aan ander bewys, bereid om te bid en die ekstra myl te loop vir diegene wat fisies, emosioneel of geestelik ly, en daarmee volhou totdat hulle Jesus bereik.
 
Jesus het aan sy volgelinge gesê: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." (Matteus 22:39) Daar is geen beter manier om sy opdrag te gehoorsaam as om ons liefde en geloof aktief uit te le nie. Wat meer kan ons vir onsself van ons vriende vra?
 
Gebed: Dierbare Vader, dankie vir die lojale, omgee vriende in my lewe wat wanneer ek verlam en te swak is om myself te help, my tot in Jesus se teenwoordigheid dra. Help my om dieselfde vir ander te doen en nie teen my beperkinge vas te kyk nie, maar wel na Jesus se genesende krag en vergifnis wat ons almal kan verander wanneer ons in liefde en geloof na Hom toe gaan. Amen
Next article: God se goeie nuus: God is barmhartig teenoor sy skepping - 5 Junie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.