Die hartseer van mense wat nie in geloof groei nie - 23 Mei 2025
Ewald Schmidt
Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is. 2 Petrus 1:9, 1983-vertaling
Een van die grootste seer wat ons as mense kan beleef, is wanneer ons kinders gebore word, maar nie tot volwassenheid ontwikkel nie. Ek wonder of ons Hemelse Vader ook daardie seer ervaar wanneer sy kinders nie tot geestelike volwassenheid ontwikkel nie, maar altyd geestelike babas bly.
Vandag se teksvers praat van mense wat Jesus as Here van hulle lewe leer ken het. Daar was 'n dag wat die Heilige Gees hulle van sonde oortuig het. Hulle het tot die besef gekom dat hulle verlore sonder Jesus is, en nie in staat is om hulleself te red nie. Hulle het Jesus as die Verlosser van hulle lewe leer ken, en hulle lewe aan hom oorgegegee. Dit was wonderlik om te hoor dat hulle nou vergewe van sondes is, en die ewige lewe het! Maar toe het hulle net daar vasgesteek. Hulle het nie tyd saam met die Here spandeer nie, en nie 'n honger en 'n dors na sy Woord ontwikkel nie. Hulle is kinders van God, maar leef asof Hy nie die fondament van hulle lewe is nie. Ken jy dit ook in jou lewe? 'n Mens gaan dalk op 'n manne- of vrouekamp, of woon 'n groot saamtrek by van 'n bekende evangelis. In die oortuiging van die oomblik wy jy jou lewe aan Jesus toe. Maar wanneer jy weer by die huis kom, tref die normale lewe jou weer. Jy moet steeds rekeninge betaal, al jou verhoudings is nie dadelik anders nie. En stadig begin jy weer wegdryf van die roepstem van Jesus af.
Petrus sê: wanneer ons nie aktief besig is om te groei in ons geloof nie, is ons kortsigtig. Selfs blind. Ons sien nie raak waarmee God in ons lewe besig wil wees nie. Ons groei nie na geestelike volwassenheid toe nie, sodat die Here ons kan gebruik om lewende getuies vir Hom te wees, wat ander mense se lewens aanraak en nader aan Hom trek nie.
Daar kan baie redes wees waarom mense nie in geloof bly groei nie. Dis die doel van Jesus se gelykenis van die Saaier in Matteus 13:1-7. Party van die saad val op 'n harde pad, en die voëls pik dit op. Dis mense aan wie die boodskap van God se genade geen verskil maak nie. Dan val saad op die klipbank, met net so bietjie grond. Dit kom gou op, maar verdor in die warm son. Dis wanneer iemand die evangelie aanneem, maar nie toelaat dat dit in sy lewe wortel skiet nie, hy keer gou weer terug na sy ou weë asof hy Jesus nooit leer ken het nie. Die derde beeld is saad wat tussen die onkruid beland, en wanneer dit opkom, verstrengel dit. Jesus het dit verklaar as iemand wat deur die sorge van die lewe of die verleiding van rykdom verwurg word (Lukas 13:22) Maar die geseënde man se saad val op vrugbare grond en bring 'n groot oes vir die boer, dertig-; sestig- of honderdvoudig.
Iemand wat die goeie Woord van Jesus se genade hoor, en dit maak niks aan hom nie, so iemand is blind vir dit waarmee God besig is. Maar wanneer ons die Woord ernstig opneem, tyd saam met die Here spandeer, dan kan ons die vrug lewer wat Hom verheerlik (Johannes 15:8) Moenie blind in geloof wees nie, spandeer tyd saam met die Here!
Gebed: Here, lei my op die pad van geloofsgroei. Help my om vrug te dra wat U sal verheerlik. Bewaar my daarvan om kortsigtig of blind te wees vir dit waarmee U besig is in my lewe, terwyl u alternatief soveel beter is vir my! Amen.