Om Jesus beter te leer ken is my diepste wens - 22 Mei 2025
Ewald Schmidt
As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken. 2 Petrus 1:8, 1983-vertaling
Petrus het geleer dat ons geloof 'n kosbare geskenk van God is. Maar dat ons ook 'n verantwoordelikheid in ons geloofsgroei het. Geloof moet verryk word met deugsaamheid, kennis, selfbeheersing, volharding, godsvrug, liefde onder mekaar, en liefde vir alle mense.
Vandag se teksvers vra van ons om te bly groei in geloof. Dit word 'n lewenslange leerproses. In hierdie groeiproses is ons gesindheid baie belangrik. Om ywerig te wees, beteken om 'n taak met entoesiasme te verrig. Dit is vir ons lekker, ons wil dit graag doen. Omdat ons Jesus as ons Here ken, en Hom liefhet, wil ons graag tyd saam met Hom spandeer. Ons wil Hom so graag al beter leer ken. Ons spandeer tyd in sy Woord, en ons praat met Hom deur gebed. Soos wat ons groei in kennis van Jesus, wil ons al meer diensbaar wees vir Hom. Ons wil so graag dat ons lewens Hom sal verheerlik. Ons begeer dat ons lewe vrug sal dra wat getuig van die goedheid van God.
Paulus het hierdie honger na die Here se teenwoordigheid goed verstaan. Hy getuig in Filippense 3 van sy ou lewe, voordat hy Jesus geken het. Hy het gedink dat hy die leer van sukses mooi geklim het. Hy het so baie dinge gehad waaroor hy opgewonde sou kon wees in sy leeftyd. Hy sê in Filippense 3:4-6: “As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: ek is op die agste dag besny, van geboorte 'n Israeliet, uit die stam Benjamin, 'n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek 'n Fariseër, in my ywer 'n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.”
Soos Paulus kan ons ook bou aan 'n lewe waarop ons baie trots kan wees. Dit lyk so asof hy by al die regte dinge uitgekom het. Tot die dag wat hy agtergekom het sy leer van sukses staan teen die verkeerde muur. Sonder Jesus in sy lewe het hy agtergekom al sy prestasies was vir hom waardeloos. Alles in sy lewe het verander toe hy Jesus leer ken het. Hy verwoord dit so mooi in Filippense 3:7-11: “Maar wat eers vir my 'n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat 'n mens in Hom glo. Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.”
Ken jy ook daardie behoefte om Christus te ken, en voluit vir Hom te lewe? Dan bou jy jou lewe op die regte fondament. Dit verander alles in ons lewe. Soos Paulus dit in 1 Korintiërs 10:31 beskryf: “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.” Ons bou ons hele lewe op die fondament van geloof in Jesus Christus as ons Here. Dit maak ons lewe sinvol, dit gee vir ons hoop. Ons lewe maak saak, dit bring lig in die donkerte rondom ons.
Gebed: Here, dankie dat my geloof 'n kosbare geskenk uit u hand is. Dankie dat U my deur u Gees lei om U al beter te leer ken. Soos wat ek groei in geloof, maak my al meer bruikbaar as 'n ligdraer in hierdie donker wêreld, 'n lewende getuie van die hoop en die liefde wat ek by U gevind het. Amen.