Geloof wat 'n verskil maak in God se wêreld - 21 Mei 2025
Ewald Schmidt
En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense. 2 Petrus 1:5-7, 1983-vertaling
Die Here het nie net dié mense lief wat Hom liefhet en dien nie. Die groot waarheid van Johannes 3:16 moet ons altyd onthou: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” God het sy Seun vir die wêreld gegee. Petrus verkondig in 2 Petrus 3:9 “Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.”
Ons mense het die neiging om laer te trek. Ons dink so maklik dat die Here net vir ons groepie lief is, en dat Hy die res van die mensdom haat. Maar ons Here Jesus het juis kom wys hoe God die mensgemaakte grense oorsteek, en met genade uitreik na “die ander”. Verbaas het die vrou by die put in Samaria vir Jesus gevra: “Hoe vra jy, wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water om te drink?” (Johannes 4:9)
Jesus was so ernstig daaroor dat almal van Hom moet weet, dat dit sy laaste opdrag aan sy kerk was voor sy hemelvaart: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Matteus 28:19-20a)
Ons mag Jesus nie net vir onsself hou nie. God het Hom vir die wêreld gegee. Ons Here Jesus het redelik naby die begin van sy bediening in Lukas 6:32 en 33 gevra: “As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet. En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so.”
Daarom wil Petrus in vandag se teksvers ons uitdaag om groter te dink, en grense oor te steek met liefde. Ons mag nie net dié liefhê wat vir ons liefhet, en dié dien wat iets terug vir ons kan doen nie. Liefde vir mekaar moet verder groei na liefde vir alle mense. Met hierdie “alle mense” is daar nie uitsonderings nie. Ons word geroep om alle mense lief te hê. Jesus het groot moeite gedoen om vir ons te leer: “Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word.” (Lukas 6:27-28) As ons net mense liefhet wat vir ons iets terug kan doen, is ons 'n geslote groep. Wanneer ons selfs ons vyande met die liefde van Jesus behandel, dan is daar 'n getuienis wat sigbaar word: Jesus is werklik liefde. Liefde is skaars in hierdie wêreld, en vergifnis nog meer. Wanneer ons dit uitleef, soos wat Jesus ons liefhet, dan is daar 'n getuienis van sy goedheid. Dan groei sy koninkryk in hierdie wêreld. Dan skyn daar 'n goddelike lig in die duisternis.
Gebed: Here, toe U gesê het ek moet myself verloën, en my kruis opneem om U te volg, was hierdie die groot uitdaging. Dis nie maklik vir my om mense lief te hê wat anders as ek is, wat dalk selfs vyandig teenoor my is nie. Daarom vra ek vandag: vul my met u liefde, dat daar genoeg vir almal rondom my is. Help my om U eerste te stel, deur lief te hê, al kos dit my baie. Want U het my so lief dat U alles opgeoffer het vir my. Amen.