Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lewe wat 'n groot verskil maak in die kerk - 20 Mei 2025

Ewald Schmidt
 
En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar … 2 Petrus 1:5-7a, 1983-vertaling
 
Die mense van die eerste eeu het graag na Jesus kom luister wanneer Hy vertel het van die koninkryk van God. Dit wat Jesus kom bring het, was so verfrissend anders as dit waaraan hulle gewoond was. Veral in die Matteus Evangelie sien ons hoe dikwels die kerkleiers, die Fariseërs en Skrifgeleerdes, met Jesus gebots het. Hulle het 'n baie harde stel reëls gehad waarvolgens hulle die Here probeer dien het. Hulle het van geloof net die nakoming van wette gemaak. Hulle het dit selfs nog moeiliker gemaak deur hulle eie interpretasie van die wet op die bevolking af te forseer. Maar hulle het die hart en die gees van die Wet heeltemal gemis.
 
Ons Here Jesus daarteenoor het baie meer gefokus op die verhoudingsaspek van geloof. Wanneer die skrifgeleerde in Matteus 22:34 en verder, Hom probeer vasvra oor wat nou die belangrikste wet in die Skrif is, antwoord Jesus dat dit oor verhouding gaan! Om God lief te hê met ons hele hart, siel en verstand. Daarmee sluit Jesus baie sterk aan by die tradisie dat gehoorsaamheid aan God baie belangriker as offerhandes is. Die tweede dimensie van geloof is die manier hoe ons ons naaste behandel. Jesus het die Goue Reël aangehaal, wat amper universeel dwarsoor die wêreld voorgekom het: Jy moet jou naaste so lief soos jouself hê.
 
Die aand voor sy kruisiging het Jesus dit nog nader aan ons gebring, toe Hy die standaard nog soveel hoër gestel het. Hy het in Johannes 13:34 en in Johannes 15:12 beveel: “Dis my nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Soos wat Ek julle liefhet, so moet julle mekaar liefhê.” Dis soveel moeiliker. Ek hou nie altyd van myself nie. Ek kan soms baie lelike dinge in my kop vir myself sê. As ek ander so behandel, is dit nie goed nie. Maar Jesus het ons lief met 'n selfopofferende liefde. Hy het Homself gegee om in ons plek te sterwe, om sy liefde te bewys.
 
Ware geloof, volgens Petrus, is 'n kosbare geskenk van God. Maar ons het 'n verantwoordelikheid om daarin te groei. Ons het gister gesien ons word geroep om vrug te dra, wat die Here sal verheerlik. Godsvrug. Daardie vrug se eerste kenmerk is die liefde (sien ook Galasiërs 5:22). Sonder liefde, het Paulus in 1 Korintiërs 13 gesê, kan selfs geloof nutteloos word. Jesus het op so baie plekke in die Nuwe Testament opdragte gegee dat ons mekaar moet liefhê. Ons moet mekaar se laste dra, mekaar se vreugdes deel, mekaar aanspoor tot goeie dade, mekaar in liefde vermaan as iemand van koers af dwaal. Ons word genoem die Liggaam van Christus (1 Korintiërs 12) en die Bruid van Christus (Openbaring 19:7) Ons is as gelowiges saamgebind deur bande van liefde aan Hom, en aan mekaar. Wanneer ons mekaar liefhet, dra dit 'n getuienis in hierdie wêreld uit dat God liefde is. Sy liefde word in ons gesien. Daarom moet ons liefde vir mekaar nie net mooi woorde wees nie. Ons moet vir die Here vra om vir ons elke geleentheid te wys waar ons prakties ons medegelowige kan dien en help om by hulle doel in die lewe uit te kom.
 
Gebed: Here, dankie dat ek nie alleen u kind is nie. Dankie dat U vir my 'n geestelike familie, die kerk, gegee het waar ek tuishoort, en waar ek ondersteun en aangemoedig word. Help my om ook met my liefde my medegelowiges te dien, en hulle lewens beter te maak deur my teenwoordigheid. Amen
Previous article: Geloof wat 'n verskil maak in God se wêreld - 21 Mei 2025 Prev Next article: Vrugbare lewe tot Gods eer - 19 Mei 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.